Christo van der Walt, VF Plus-raadslid in die Nkomazi-munisipaliteit, het in ’n verklaring gesê dat die VF Plus die vernietiging van privaat- en staatseiendom in die Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga deur gemeenskapslede wat swak dienslewering as verskoning gebruik, veroordeel.
Paaie in en om Komatipoort is met brandende bande afgesper en beskadig.
“Ontevrede inwoners sou oorspronklik – soos per ’n memorandum wat aan die munisipaliteit oorhandig is – op 28 Julie ’n vreedsame protesoptog hou, maar dit het gou gewelddadig geraak,” sê van der Walt.
Die gemeenskap het protes aangeteken teen die gebrek aan dienslewering en die gebrek aan ’n funksionele Komatipoort-kliniek. Verdere eise sluit ’n gekombineerde hoërskool sowel as toegang tot sosiale, ontspannings- en sportfasiliteite in.
Daar is ook gedreig dat die protesaksie in intensiteit sal toeneem indien die munisipaliteit sloer om aan die eise gehoor te gee.
“Beide die ontevrede gemeenskapslede en die munisipaliteit is besig met ’n baie gevaarlike speletjie van kat-en-muis ten koste van mense se vryheid van beweging met gepaardgaande groot skade aan privaat- en staatseiendom,” voeg van der Walt by.
Die VF Plus is van mening dat indien die gemeenskappe van die Nkomazi-munisipaliteit hul omstandighede wil verbeter, hulle eerder moet poog om ’n munisipale bestuur wat finansieel gedissiplineerd is en dienste aan almal sal verskaf, aan die stuur te kry.