Op Woensdag 27 Julie 2022 om 18:30 het ’n 60-jarige boer by sy huis op sy plaas in Clocolan, in die Vrystaat, aangekom en twee verdagtes op heterdaad betrap waar hulle by die kluis in sy huis ingebreek het.
Toe die verdagtes besef dat hulle uitgevang is, het een verdagte ’n vuurwapen uitgehaal en die slagoffer in die binne-bobeen geskiet. Albei verdagtes het daarna van die toneel gevlug. Die polisie is na die toneel ontbied en die slagoffer is in die hospitaal opgeneem.
Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die kluis oopgebreek is en vuurwapens sowel as ’n skootrekenaar gesteel is.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die verdagtes om konstabel Richard Dlanga by 071 147 7393 of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te kontak.