Adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het ’n beroep op die betrokke wetstoepassingsagentskappe gedoen om die verhaling van R1,2 miljard van die sogenaamde ‘instaatstellers’ en ‘fasiliteerders’ van staatskaping te prioritiseer, soos aanbeveel deur die Zondo-kommissie. In verskeie dele van die Kommissie se vyf-volume verslag word spesifieke aanbevelings gemaak waarin die Staat opdrag gegee word om staatsgeld te verhaal van individue en organisasies wat staatskaping moontlik gemaak het.
Op grond van hierdie bevindings, en die DA se eie berekeninge uit die inligting wat in die verslag verskaf word, is die totale bedrag wat hierdie individue en organisasies moet betaal R1,2 miljard. Staatskapers- en -fasiliteerders het óf geldelike voordele ontvang vir die fasilitering van die toekenning van staatskontrakte aan Gupta-ondernemings óf dienste verkry wat nooit gelewer is nie.
“Terwyl die DA die Zondo-kommissie se aanbeveling verwelkom dat die R57 miljard wat deur die Guptas deur plaaslike en internasionale netwerke gewas is, opgespoor en verhaal word, moet die R1,2 miljard wat die Kommissie aangedui het direk van staatskaping-instaatstellers verhaal word, ingevorder word,” sê adv. Breytenbach.
Volgens die Zondo-verslag het die ‘instaatstellers’ en ‘fasiliteerders’ van staatskaping:
- Gemanipuleerde kontrakte tot voordeel van Gupta-ondernemings verkry;
- Onreëlmatige betalings deur benadeelde ondernemings in staatsbesit (SOE’s) verseker;
- Vooruitbetalings ontvang vir dienste wat nooit gelewer is nie;
- Onreëlmatige en ongemagtigde betalings aan individue gemaak; en
- Die voorkeurverkryging van Gupta-ondernemings bewerkstellig.
Die DA dring daarop aan dat die ANC-regering verseker dat die volgende ‘korrupte kaders en trawante’ hul ‘bloedgeld’ terugbetaal:
- Timothy Mokhesi, voormalige hoof van die departement van menslike nedersettings, het Blackhead Consulting / Diamond Hill Joint Venture aangestel en R255 miljoen betaal om asbes van dakke van huise wat deur die Vrystaatse provinsiale regering verskaf is, te identifiseer en te verwyder, ondanks die maatskappy se “wanvoorstelling” van sy vermoë om die werk te doen. Die Zondo-verslag noem die projek ’n “aansienlike bedrogspul vanaf sy ontstaan” en sê dat dit duidelik is dat dit altyd bedoel was om die maatskappy en verskeie staatsamptenare te bevoordeel.
- Mosebenzi Zwane, die voormalige Vrystaatse LUR vir menslike nedersetting, wat “versuim het om behoorlike provinsiale leierskap te verskaf” rakende ’n behuisingsprojek van R1 miljard toe die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule die omvang van die projek verander het sonder om die departement van menslike nedersettings of die kontrakteurs vir die projek te raadpleeg. Saam met Moses Mpho Mokoena, die voormalige hoof van die departement, het Zwane die kontrakteurs ook onwettig R500 miljoen vooruit betaal.
- Nie net het die Zondo-verslag gesê dat die Kommissie onnodig sou gewees het as die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) ondersoek ingestel het en staatskaping gestaak het toe die eerste tekens na vore gekom het nie, maar dit het ook bevind dat die voormalige minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, met SSA-bedrywighede ingemeng het. Die staat het tussen 2012 en 2018 R1,5 miljard verloor – sommige wat Mahlobo as groot bedrae kontant ontvang het. Hy het ook die betaling van R2,5 miljoen per maand in 2015/16 en R4,5 miljoen per maand in 2016/17 aan oudpresident Jacob Zuma gefasiliteer.
- Dit was onder Thulani Dlomo, die hoof van die Hoofdirektoraat van Spesiale Operasies (CDSO), dat SSA tot Zuma se voordeel misbruik is en Presidensiële Sekuriteitsondersteuningsdienste berig het dat hy SSA-hulpbronne opgeslurp het.
- Die Zondo-verslag het die voormalige spioenbaas Arthur Fraser ’n ‘wet op homself’ genoem rakende sy gebruik van SSA-geld.
- Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, het die SAUK R420 000 gekos deur ’n afslagooreenkoms met ANN7 te reël vir argiewe van SAUK-produksies. SAUK het uiteindelik nooit enige betaling ontvang nie. Hy het ook SAUK-bestuurders geboelie om ’n ooreenkoms met MultiChoice te aanvaar in die land se migrasie van analoog na digitale uitsaaiwese en sodoende die openbare uitsaaier ’n potensiële inkomste van miljarde gekos het. Motsoeneng was ook betrokke by die SAUK se vennootskappe met ANN7 en The New Age (TNA) om die TNA Breakfast-inligtingsessies aan te bied waarop die openbare uitsaaier voortdurend ’n verlies gemaak het, terwyl ANN7 en TNA wins gemaak het.
- Die Zondo-kommissie het aanbeveel dat geld van Zwane, Ace Magashule, en die voormalige hoof van die Vrystaatse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Peter Thabethe, verhaal word vir hul betrokkenheid by die betaling van R280,2 miljoen aan Estina – die Gupta- gekoppelde maatskappy verantwoordelik vir die rampspoedige Vrede-suiwelprojek.
- Die Guptas en die ANC-kader-ontplooiers het Transnet as hul eie persoonlike spaarvarkies gebruik, “hoofsaaklik deur die Gupta-afpersonderneming”. Kontrakte ter waarde van R41,2 miljard is toegeken aan maatskappye wat aan die Guptas of hul vennoot Salim Essa verbind is. Al die geld moet verhaal word van voormalige Transnet-uitvoerende hoofde, Brian Molefe en Siyabonga Gama, en die voormalige finansiële hoof (HFB) Anoj Singh, asook alle ander raadslede wat by staatskaping betrokke is.
- Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) moet geld verhaal wat wanbestee is deur die Gupta-gekoppelde Regiments Capital en die maatskappy se voormalige en huidige eienaars, SAL, Nedbank en Standard Bank ingevolge die renteruilkontrakte.
“Die staat het miljarde rande se belastingbetalersgeld, wat bestee moes word om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter, gebruik om die sakke van ’n korrupte ANC-regering en hul kamerade te vul,” sê Breytenbach. “Die eerste stap om die ‘groot rooftog’ van staatskaping reg te stel, is om dringend staatsfondse van die instaatstellers en fasiliteerders van staatskaping te verhaal.”