Voor Wêreldveldwagterdag wat jaarliks op 31 Julie gevier word, het Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, hulde gebring aan Timbavati se hoofveldwagter, Anton Mzimba (49), wat vandeesweek buite sy huis doodgeskiet is.
Creecy het gesê dat Mzimba sy lewe gewy het aan die bewaring en die bevordering van gesonde verhoudings tussen bewaringsowerhede en gemeenskappe wat aan die buitewyke van beskermde gebiede woon.
Die Timbavati-wildreservaat is ’n brandpunt vir renosterstropery.
“Ek gebruik hierdie geleentheid om hom en die toewyding waarmee hy sy verantwoordelikhede aangepak het, te salueer. Ek sal ook my innige meegevoel uitstuur aan sy vrou en jong gesin wat deur hierdie gruwelike misdaad van hul pa en broodwinner beroof is,” het die minister Donderdag gesê.
Die departement van bosbou, visserye en die omgewing se ‘Groen Skerpioene’ staan gereed om saam met die polisie te werk om die moordenaars van Mzimba, wat Dinsdag vandeesweek buite sy huis doodgeskiet is, in hegtenis te neem.
Die 49-jarige man het aan sy beserings beswyk terwyl sy vrou om haar lewe veg nadat sy kort ná die skietvoorval in die hospitaal opgeneem is.
Volgens brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het drie gewapende mans Dinsdag om 19:00 die huis van die egpaar binnegekom waar hulle voorgegee om vir water te vra, aangesien hul voertuig ’n probleem gehad het. Terwyl die kind besig was om hulle by te staan, het die verdagtes die man van die huis (wat in sy motor besig was) skielik genader en hom na bewering verskeie kere geskiet. Daar word verder beweer dat sy vrou geskree het nadat sy gesien het wat pas met haar man gebeur het, waarna sy ook deur die verdagtes geskiet is. Die drie verdagtes het glo toe in ’n wit VW Polo van die toneel gevlug sonder om enige iets in die huis te neem.
Die twee slagoffers is na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar die man met hul aankoms ongelukkig aan sy beserings beswyk het, maar sy vrou is opgeneem en ontvang tans mediese behandeling.
Die saak is toe by die Mhala-polisiestasie aangemeld waar ’n saak van moord geopen is met ’n bykomende klag van poging tot moord. Die polisie het intussen ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur en doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes vas te trek om sersant Collen Nyalungu by 076 936 7222 of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.