Die African Transformation Movement (ATM) sê dit neem kennis van die laat indiening van antwoorde deur President Cyril Ramaphosa aan waarnemende openbare beskermer (OB), advokaat Kholeka Gcaleka, oor die beweerde toesmeerdery van die diefstal op die president se Phala Phala-plaas op 9 Februarie 2020.
Dit volg nadat preaident Cyril Ramaphosa die antwoorde op die 31 lange vrae (oftewel 13 afdelings) ná die aanvanklike sperdatum ingedien het om ’n dagvaarding deur die OB se kantoor se voorkom.
Die OB sal nou ’n ondersoek van stapel stuur oor Ramaphosa se beweerde oortreding van die etiese kode deur die uitvoerende gesag. Die OB het nou 30 dae (tot Sondag 21 Augustus 2022) om ’n verslag saam te stel wat aandui of Ramaphosa dié kode oortree het.
Dit, terwyl die voormalige spioenbaas, Arthur Fraser, ’n strafregtelike klagte en ’n beëdigde verklaring van 48 bladsye ter ondersteuning van sy bewerings, by die Rosebank-polisiestasie ingedien het. Die bewerings word nou deur die Valke ondersoek, waar Ramaphosa aangekla word van geldwassery, ontvoering en regsverydeling.
So, wat is die vrae wat Ramaphosa moes antwoord?
Die Openbare Beskermer het Ramaphosa “vriendelik versoek” om ’n gedetailleerde antwoord te verskaf op die bewerings wat hieronder genoem word, asook om dokumentasie en/of inligting ter ondersteuning te voorsien:
[Let wel: JY verwys na President Cyril Ramaphosa in die vrae hier onder, terwyl PLAAS na sy Phala Phala-wildsplaas in Limpopo verwys]
1. ’n Gedetailleerde verklaring wat ’n verduideliking verskaf oor of jou gedrag teenstrydig was met die Etiese Kode (EMEA), artikel 96 van die Grondwet, of enige ander wetlike verpligting;
2. Dui asseblief aan of jy enige finansiële belange op die plaas in Limpopo het en indien so, of jy sodanige belange aan die Parlement verklaar het soos vereis deur die Etiese Kode;
3. U word verder versoek om die aard en waarde van enige finansiële belange wat deur u op die plaas as ’n kommersiële entiteit gehou word, aan te dui;
4. Of die genoemde eiendom (die plaas) aan jou behoort of geregistreer is in jou naam of in die naam van enige van jou maatskappye waarin jy ’n belang besit. Verduidelik asseblief die aard van hierdie besigheid;
5. Of daar enige kontant ter waarde van miljoene Amerikaanse dollars (meer as vier miljoen Amerikaanse dollars) op jou plaas gestoor was, en indien wel, verduidelik asseblief die volgende:
(a) Die bron van sodanige kontant;
(b) Enige register, kwitansie of ander bewys om die bron van sodanige kontant aan te dui, die aard van die handelstransaksie waaruit dit voortspruit of die doel van sulke kontant;
(c) Die name, vanne en lande van die persone waarmee jy handel gedryf het en wie jy betaal het met die geld in hierdie verband;
(d) Die permitte vir sodanige handeldryf op daardie tydstip en indien enige, heg asseblief ’n afskrif daarvan aan;
(e) Of sodanige permit of regulasies ’n afslaer toelaat om harde kontant op die terrein te aanvaar;
(f) Die presiese bedrag in Randwaarde van sodanige ander Buitelandse Valuta en bewys daarvan;
(g) Die datum(s) waarop sodanige kontant op die plaas ontvang is en die naam van die persoon/persone wat dit ontvang het;
(h) Die presiese wyse waarop hierdie kontant op die plaas gehou of bewaar is, bv. kluis of meubels;
(i) Die rede(s) waarom die kontant op die plaas gehou of bewaar is en nie by die bank nie;
(j) Hoe lank daardie kontant op die perseel gehou is;
(k) Is die kontant by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar en indien ja, heg asseblief bewyse aan;
(l) Betaal die plaas belasting soos vereis deur die SAID vir verkope of veiling van enige vee, en indien ja, verskaf asseblief bewyse;
(m) Hou die boerdery op die plaas enige bankrekening en indien ja, verskaf asseblief die naam van die bank en die besonderhede van die bankrekening aan die OB;
6. Of daar op 9 Februarie 2020 ’n roof en/of diefstal van kontant by die plaas was, en indien wel, hoeveel is gesteel;
7. Of die diefstal of misdaad in verband met hierdie kontant by die SAPD aangemeld is en indien wel, verskaf asseblief die datum waarop die saak aangemeld is, die naam van die polisiestasie waar dit aangemeld is en die MAS/CAS-nommer. Indien nie, verduidelik asseblief hoekom die saak nie by die polisiestasie aangemeld is nie;
8. Of die gesteelde geld teruggevind is of nie, en indien ja:
(a) hoeveel teruggevind is;
(b) wanneer dit teruggevind is;
(c) waar dit teruggevind is;
(d) wie dit teruggekry het;
(e) van wie dit verhaal is; en
(f) of enige persoon/persone ondervra, in hegtenis geneem en/of vir die misdaad aangekla is;
9. U word ook versoek om die OB te verskaf van die naam/name van u huishulp(e) wat ten tyde van die voorval op die genoemde plaas gewerk het, insluitend die een wat op die perseel teenwoordig was op die dag van die beweerde rooftog/diefstal;
10. Duidelikheid of u die hoof van die presidensiële beskermingseenheid, generaal-majoor Wally Rhoode, spesifieke instruksies gegee het oor hoe om hierdie saak te hanteer, sonder om dit by die polisiestasie aan te meld. Indien wel, wat daardie instruksies was en verduidelik asseblief of generaal Rhoode u gereelde opdaterings oor sy ondersoek van hierdie saak gegee het;
11. Enige ander stappe wat jy gevolg het om te verseker dat die beweerde diefstal van kontant deeglik ondersoek word;
12. Enige ander inligting wat jy dalk onder die aandag van die Openbare Beskermer wil bring om te help met die spoedige afhandeling van hierdie aangeleentheid.
13. Ons is in die stadium van inligting-insameling van die ondersoek met die oog daarop om die inligting en bewyse wat in die aangeleentheid verkry is te evalueer en sal u nader met ’n versoek om verdere bystand met betrekking tot onderhoude wat ons beoog om so gou moontlik te hou, indien dit nodig sou wees.
Dit is egter nie bekend of die antwoorde op die vrae aan die media gepubliseer sal word nie. Die uitkomste van die ondersoek sal wel gepubliseer word.
Só voel die ATM:
Die ATM voel egter dat die dreigement van dagvaarding net ’n rede was om tyd te koop en vir Ramaphosa se laat indiening te regverdig.
“As die waarnemende OB ernstig was oor hierdie dagvaarding, sou sy dit net uitgereik het sodra daar nie voldoen is aan die tweede gemiste sperdatum nie,” sê Sibusiso Mncwabe, woordvoerder van die ATM.
Noudat die antwoorde uiteindelik ingedien is, hoop die ATM dat die kwaliteit van die antwoorde sal neerkom op die antwoorde op die 31 vrae.
“Dit behoort advokaat Gcaleka ’n geleentheid te gee om nou ’n voorlopige verslag op te stel waar voorlopige bevindings aan Ramaphosa gekommunikeer kan word,” sê Mncwabe.
Die ATM het ’n beroep op adv. Gcaleka gedoen om hierdie saak te prioritiseer omdat die hele geloofwaardigheid van die land op die spel is.