Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het in ’n verklaring gesê dat die minister van polisie, Bheki Cele, oneerlik met die publiek van Suid-Afrika is deur voor te gee die polisie vordering met die reuse agterstand in DNS-toetse maak.
“Ná die onaanvaarbare en wrede verkragting van agt vroue wat besig was om ’n musiekvideo by Krugersdorp te maak, het minister Cele nou skielik na vore getree en gesê die polisie is besig om die agterstand in DNS-toetse te verminder,” sê dr. Groenewald.
“Die waarheid is egter dat polisieverslae wat voorgelê is aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, ’n ander prentjie skets.”
Luidens die Junie-verslag vanjaar was die agterstand in DNS-toetse 150 131. Die verslag is onderteken deur minister Cele.
In die volgende verslag (Julie 2022) het die agterstand tot 180 381 vermeerder.
Dit is meer as 30 000 binne ’n enkele maand. “Die minister mislei daarom die publiek deur te sê die agterstand word minder,” sê dr. Groenewald verder.
“Dit is duidelik dat die voorval in Krugersdorp ’n groot verleentheid vir die polisie is en daarom probeer die minister met onwaarhede om die indruk te wek dat DNS-toetsings by die polisie se laboratoriums geprioritiseer word.
“Die feit dat die minister spesiale aandag vereis vir die Krugersdorp-voorval, is dit uiters onbillik en ’n klap in die gesig van ander misdaad- en verkragtingslagoffers van wie sommige al langer as twee jaar wag op die uitslae van toetse wat met hul sake verband hou,” sê Groenewald.
Die VF Plus het verlede jaar reeds daarop gewys dat pres. Cyril Ramaphosa, minister Cele en die destydse nasionale kommissaris, generaal Khehla Sitole, by herhaling die probleem as ’n krisis erken het en beloof het “onmiddellik” werk daarvan te maak.
Pres. Ramaphosa het in Mei 2021 aan die parlement gesê die agterstande is “heeltemal onaanvaarbaar” en die polisie “werk hard om dit uit te wis”. Hy het onderneem om selfs die private sektor te betrek om te help.
Minister Cele het met ’n parlementêre debat in 2021 gesê die situasie is ’n krisis wat ’n “enorme invloed op die afhandeling van hofsake oor ernstige misdaad soos moord en verkragting het”.
Volgens dr. Groenewald is dit nou duidelik dat dit net leë beloftes was en daar geen waarde geheg kan word aan die beloftes en uitsprake van die regering oor die krisis nie.
“Ek het al by herhaling gesê die strafregstelsel en onbevoegdheid in die polisie faal die publiek toenemend.”
Volgens dr. Groenewald is dit duidelik dat daar net een oplossing is en dit is om die minister van polisie te vervang met ’n persoon wat nie net krisisbestuur toepas nie en bereid is om daadwerklik aandag te gee aan die misdaadprobleem.
“President Ramaphosa sal daadwerklik moet optree in die publiek se belang. Intussen mag daar nie gediskrimineer word teen ander misdaad-slagoffers waar DNS-toetse lank reeds uitstaande is nie.”