Opod sal die optrede van polisiebeamptes wat by die diefstal betrokke was ondersoek, terwyl die Valke eise van regsverydeling en ontvoering sal ondersoek.
“Na ’n diepgaande ontleding van die African Transformation Movement (ATM)-party se versoek om die beweerde optrede van die polisie rakende die Phala Phala-wildsplaas-aangeleentheid te ondersoek, het die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) vasgestel dat die klagte van die party gebaseer was op die verklaring van Arthur Fraser, soos wat in die media versprei word.”
Só het Lizzy Suping, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), Maandag aan AfriNuus gesê.
Volgens Suping word dieselfde klagte deur die Valke ondersoek en die direktoraat bly voortdurend in kontak met die span van die Valke wat opdrag gegee is om dieselfde bewerings te ondersoek. “Al betrek hierdie bewerings senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wil Opod ’n duplisering van regeringshulpbronne in die ondersoek van dieselfde saak vermy.”
Opod sal die beweerde optrede van die polisiebeamptes ingevolge die SAPD-regulasie ondersoek terwyl die Valke die kriminele element deur die SAPD-amptenare ondersoek wat onder meer regsverydeling en ontvoering insluit.
Opod sal ook die uitslag bekendmaak wanneer die ondersoek voltooi is.
Die ATM-party is ook bewus gemaak van die besluit wat die Opod geneem het.