Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, sê dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vandag toegeslaan het op onwettige mynbedrywighede in Gauteng in ’n gesamentlike klopjag deur talle polisieowerhede.
Die deursoek- en beslagleggingsoperasie wat deur Bheki Cele, die minister van polisie, gelei is, is deur Elias Mawela, Gautengse provinsiale polisiekommissaris, Ebrahim Kadwa, provinsiale Valkehoof, en distrikskommissaris van Wes-Rand, Kekana, gelyktydig op agt (8) persele in Krugersdorp en Randfontein uitgevoer.

Altesaam ses-en-veertig (46) verdagtes is in hegtenis geneem en een is noodlottig gewond. Die verdagtes sluit buitelandse burgers van buurlande in en hul status in die land is nou ’n onderwerp van ’n voortdurende ondersoek.
“Verder is sewehonderd (700) ton gouddraende materiaal ter waarde van meer as R2,5 miljoen gevind in vyf (5) van die onwettige myne wat ontbloot is en daar is beslag gelê op twintig (20) selfone vir verdere ondersoek,” sê Nkwalase verder.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op die aanklagte wat insluit die oortreding van die Wet op Edelmetale 37 van 2005, Wet op Mynbougesondheid en -veiligheid 29 van 1996, diefstal, Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne 28 van 2002 en moontlik Wet op Immigrasies 13 van 2002.
