Tussen 1 April 2022 en 30 Junie 2022 is 198 sake wat voor die hof dien, teruggetrek as gevolg van ‘ondoeltreffendheid deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).’
Só het Reagen Allen, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, in ’n verklaring gesê.
“Dit is 198 sake wat nooit voor die howe sal wees nie, 198 beweerde misdade waar die oortreders eenvoudig vry sal loop, en ’n reeks slagoffers wat nooit geregtigheid sal sien geskied nie. Dit is op sigself krimineel,” voeg Allen by.
Hierdie statistieke is verkry uit die kwartaallikse verslag van die Departement van Gemeenskapsveiligheid.
Minister Reagan Allen het bygevoeg: “Dit is verskriklik dat die SAPD op sulke eenvoudige maniere misluk het. In plaas daarvan om slagoffers van misdade te help om geregtigheid te laat geskied, het hulle hul ’n verdere slag toegedien, en as ’n samelewing moet ons opstaan en sê dat ons nie kan toelaat dat dit voortduur nie.”
Dit is ’n uiteensetting van die sake wat teruggetrek is:
Die top 5 polisiestasies wat verantwoordelik was vir 48,2% (41) van die 85 sake wat teruggetrek is vir dossiere wat nie by die hof was nie, is:
- Beaufort-Wes: 16
- Oudtshoorn: 10
- Lingelethu-Wes: 8
- Kuilsrivier: 4
- Knysna: 3
Die top 5 polisiestasies met onvolledige ondersoeke, wat verantwoordelik was vir 52,5% (42) van die totale 80 sake, is:
- Oudtshoorn: 13
- Laingsburg: 12
- Citrusdal: 7
- Beaufort-Wes: 6
- Manenberg: 4
Minister Allen het gesê: “Ek gaan hierdie polisiestasies besoek en by gemeenskapslede staan totdat die polisiebestuur hulle help om hul kwessies uit te sorteer. Die inwoners van hierdie gebiede, en trouens alle inwoners, verdien ’n polisiediens wat sal verseker dat misdaad verminder word en dat geregtigheid geskied wanneer dit plaasvind.”
“Ek is ook woedend dat ek in Vrouemaand ’n verslag ontvang wat sê dat geslagsgebaseerde geweldsake (GBV) 18,2% (36) van die algehele 198 gevalle wat gemonitor is, uitmaak. Dit is ’n droewige mislukking van die SAPD om een van die grootste kwessies wat ons samelewing vandag teister, om te keer. Dit is geen wonder dat vroue nie misdade van hierdie aard wil aanmeld nie – hul sake is nutteloos in die SAPD se hande.
“Al 36 GBV-gevalle is teruggetrek óf van die hofrol geskrap weens die sistemiese mislukkings. Meer as twee derdes (25 aanklagte) van die 36 GBV-sake wat gemonitor is, is teruggetrek omdat die dossiere nie na die hof gebring is nie. Agt van die 36 GBV-sake is teruggetrek omdat die ondersoek onvolledig was.”