Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het vandag ’n uitnodiging van Pretoria FM aanvaar om die omstrede Bela-wetsontwerp met die ANC se Gautengse voorsitter, Panyaza Lesufi, te debatteer.
AfriNuus het gister berig dat die ANC uitgevaar het teen die ‘aanvalle deur verskeie politieke partye en groepe’ op Lesufi.
“Ons daag Lesufi uit om die uitnodiging te aanvaar,” sê Zille in ’n verklaring.
“Dit volg nadat Lesufi gister ’n verklaring vrygestel het wat die Bela-wetsontwerp verdedig, wat skoolbeheerliggame van die mag sal beroof om hul eie taal- en toelatingsbeleide te bepaal, en daardie mag aan ANC-kaders soos Lesufi sal oorgee,” voeg Zille by.
“Ingevolge die diskriminerende Bela-wetsontwerp sal die hoof van provinsiale onderwysdepartemente en LUR’e soos Lesufi uiteindelik besluit watter taal in jou kind se skool onderrig word en wie tot die skool toegelaat word,” sê Zille. “Lesufi is die trotse borg van hierdie diskriminerende stap, en die ANC val moedertaalonderrig, veral Afrikaans, aan en gaan ons skole vernietig. Die DA sal nie hiervoor staan nie.”
Zille sê sy sien uit na Lesufu se bevestiging dat hy aan die debat sal deelneem.
Volgens ’n uitnodiging, wat AfriNuus onder oë gehad het, sal die volgende onderwerpe bespreek word:
- Die Bela-wetsontwerp;
- Rassisme; en
- Die toestand van die departement van onderwys in Gauteng, asook skole in die provinsie.
’n Datum en tyd sal bevestig word indien Lesufi tot die debat instem.