Die land se grootste opposisiepartye het vandag vergader om die sloer van die Speaker van die Nasionale Vergadering (NV) om president Cyril Ramaphosa tot verantwoording to roep oor die Phala Phala-plaasskandaal, te bespreek. Die politieke partye het ook bevestig dat ’n mosie van wantroue teen Ramaphosa op die tafel is.
Die opposisie politieke partye, naamlik die Demokratiese Alliansie (DA), Economic Freedom Fighters (EFF), Inkatha Freedom Party (IVP), National Freedom Party (NFP), African Transformation Movement (ATM), United Democratic Movement (UDM) en African Christian Democratic Party (ACDP) het op Woensdag 3 Augustus in die Nasionale Vergadering ’n vergadering gehou.
Siviwe Gwarube, die DA se nasionale woordvoerder, het dié nuus in ’n verklaring bevestig.
Die primêre agenda en fokus van die vergadering was om opposisiepartye se vasberadenheid en toewyding te bespreek om ANC-leier, president Cyril Ramaphosa, aanspreeklik te hou oor die beweerde toesmeerdery van die Phala Phala-skandaal. Dít veral in die lig van die ernstige aantygings wat hy in die gesig staar oor plaasskandaal en die ‘skending van die grondwet.’
“Ons is eenparig in die besluit dat die President dringend aanspreeklik gehou moet word en geen vertragings, afleidings en uitstel toegelaat moet word nie,” sê Gwarube.
Al die opposisiepartye het hul ontevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, tot dusver die eise van politieke partye hanteer het in ’n poging om die President aanspreeklik te hou.
“Ons stem ook saam dat die verberging van die President se antwoorde aan die Openbare Beskermer (OB) oor die Phala Phala-aangeleentheid onaanvaarbaar is en uitgedaag moet word”, sê Gwarube.
Die volgende beginsels is ooreengekom:
1. Die parlement moet president Cyril Ramaphosa aanspreeklik hou vir die oortreding van wette, in terme van wat by Phala Phala gebeur het, wat hom impliseer.
2. Opposisiepartye sal breër konsultasies met burgerlike samelewingsorganisasies, nie-winsgewende organisasies, vakbonde en godsdiensliggame inisieer en daaraan deelneem om ’n gemeenskaplike benadering en reaksie te konsolideer om die uitvoerende gesag en die President aanspreeklik te hou.
3. Die Openbare Beskermer moet as ’n saak van dringendheid, en soos deur die wet vereis word, die verslag oor die Phala Phala-ondersoeke bekend maak.
4. Opposisiepartye sal ’n opvolgvergadering met die Speaker van die Nasionale Vergadering (NV) versoek om alle aanspreeklikheidskwessies te bespreek, insluitend die gebruik van ’n geheime stemming vir mosies van wantroue.
5. Opposisiepartye sal hul kollektiewe en individuele hofaksies teen die Speaker van die Nasionale Vergadering en alle ander instellings wat poog om die Parlement se grondwetlike verpligtinge om die uitvoerende gesag en Parlement aanspreeklik te hou, verskerp.
6. Die Parlement moet fisies byeengeroep word om alle Parlementêre kwessies en sy agenda te hanteer.
7. Opposisiepartye sal op Woensdag, 10 Augustus 2022, ’n opvolgvergadering hou om ’n gemeenskaplike benadering oor die instelling van ’n Artikel 89-komitee, Parlementêre ad-hoc-komitee, en ’n benadering tot ’n mosie van wantroue in die President te finaliseer.