Vier verdagtes is Woensdag 3 Augustus buite die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg in hegtenis geneem ná ’n skietgeveg met polisiebeamptes.
Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het bevestig dat die polisiebeamptes besig was met roetinepatrollies in Randburg toe hulle ’n verdagte voertuig gewaar het.
Hulle het die voertuig na Empireweg, naby die Johannesburgse middestad, gevolg, waarna die insittendes van die voertuig op die polisievoertuig losgebrand het.
’n Skietgeveg het tussen die verdagtes en die polisie uitgebreek.
Beamptes van die Johannesburgse metropolisiediens (JMPD) het op die toneel aangekom en vier verdagtes in hegtenis geneem.
Twee vuurwapens is deur die polisie teruggevind. Die polisie sê verder dat die nommerplate op die voertuig vervals.
Die verdagtes sal aangekla word vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van ammunisie en poging tot moord.