Bheki Cele, minister van polisie, draai sy rug op slagoffers van verkragting met ’n agterstand in die DNS-verslae.
Só het die burgerregte-organisasie, Action Society, Woensdag in ’n verklaring gesê, terwyl die drukgroep ’n beroep op President Cyril Ramaphosa gedoen het om minister Cele af te dank.
“Minister Bheki Cele gaan weer kreatief raak met die waarheid,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society. “Die polisie vorder nie met die uitwissing van die agterstand van DNS-toetse soos hy wil hê ons moet glo nie.”
Volgens die amptelike polisieverslae aan die Parlementêre Komitee vir Polisie het die agterstand in Junie op meer as 150 000 gestaan en in Julie vanjaar tot meer as 180 000 gestyg. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jongste misdaadstatistieke word vyf vroue elke uur in Suid-Afrika verkrag – dit is 120 per dag.
“As ons met gemiddeld vier bewysstukke per saak werk, is dit 720 000 toetse wat in die agterstand is. Voeg nou 14 200 bewysstukke in verkragtingsake per maand by – net verkragtingsake – en jy kan sien hoekom die polisie die stryd verloor om geregtigheid vir die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) te kry,” het Cameron gesê.
Cele het in Maart vanjaar gesê die agterstand sal binne ses maande ingehaal word. Hy het ook gesê hulle kyk na vennootskappe met universiteite om DNS-bewyse te help verwerk. Tog het niks daarvan gekom nie.
“Skielik, met die verkragting van agt vroue in Krugersdorp en die media se oë op hom, wil Cele DNS-verwerking versnel,” het Cameron gesê. “Wat van ander slagoffers wat meer as twee jaar wag om hul DNS te laat verwerk? Hoekom is daar nog geen vennootskappe tussen publieke en private maatskappye aan die gang nie?”
Die minister blameer die agterstand op forensiese laboratoriums. Tog het hy in Junie aan dieselfde komitee geantwoord dat “alle kritieke kontrakte vir die verkryging van verbruiksgoedere, herstel, instandhouding en kalibrering van toerusting toegeken en in plek is”. Hy het ook gesê dat “daar geen tekort aan reagense en chemikalieë is nie”.
“Ons het ’n krisis, mnr. Cele, en jy maak vals beloftes en lieg. Jy is te blameer,” het Cameron gesê. “Jy besef nie hoeveel sake van verkragting en aanranding voorlopig en finaal permanent van die hofrol geskrap word weens vertraagde DNS-verslae nie. Jy ken nie hul name nie, so hou hul hande vas en begin sake van voor af ondersoek. Ons doen.”
Action Society dring daarop aan dat president Ramaphosa die eerste stap neem om die SAPD in vorm te kry deur minister Cele af te dank. Action Society se petisie – wat formeel in Julie aan die Parlement oorhandig is – staan op meer as 110 000 ondersteuners.