Minstens 30 ongedokumenteerde persone is in Krugersdorp in hegtenis geneem tydens ’n klopjag wat Woensdag deur die Gautengse polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, gelei is.
Volgens Gautengse polisiewoordvoerder, brigadier Brenda Muridili, bring die inhegtenisnemings die aantal verdagtes wat in hegtenis geneem is op meer as 130 te staan sedert die begin van die provinsie se hoëvlak-operasies verlede Vrydag.
“Die dertig ongedokumenteerde persone sal deur die gevestigde Wes-Rand-verwerkingsentrum verwerk word voordat hulle binne 48 uur in die Krugersdorp-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Immigrasiewet,” het Muridili gesê.
Bedrywighede in die gebied is verhoog ná die bendeverkragting van agt vroue naby ’n ongebruikte myn naby die dorp. Niemand is egter nog met die verkragting van die vroue verbind nie.
“Die operasies sal deurlopend uitgevoer word om te verseker dat die gebiede waar onwettige mynaktiwiteite voorkom, uitgeroei word.
“[Woensdag] het die span teruggegaan om by die mynhoop naby die R28-pad in Krugersdorp te werk. Hulle het daarin geslaag om plastiekstrukture wat deur die onwettige mynwerkers gebruik is, te verwyder. ’n Ander groep lede het toe inligting opgevolg wat van die gemeenskapslede sowel as misdaadintelligensie ontvang is en op huise toegeslaan waar beweerde onwettige mynwerkers weggekruip het,” het sy gesê.
Muridili het verduidelik dat die klopjag uitgevoer is deur ’n multi-dissiplinêre span met lede van die Wes-Randse misdaadintelligensie en sigbare polisiëring, openbare orde-polisie, nasionale ingrypingseenheid, taktiese reaksiespan, K9-eenheid en Bidvest Protea Coin.
Lugondersteuning vir die grondmagte is deur die SAPD, Fidelity, Tracker-helikopters en hommeltuie gelewer.
Sy het bygevoeg dat lede van die gemeenskap aangemoedig word om die polisie by te staan met die arrestasies van misdadigers waar hulle woon.
“Lede van die publiek word aangemoedig om enige kennis van kriminele aktiwiteite in hul gemeenskappe aan te meld deur die SAPD Stopmisdaad-tolvrynommer by 08600 10111 te skakel of om wenke via die MySAPS-toepassing te stuur wat op enige slimfoon afgelaai kan word. Inligting wat ontvang word, sal met vertroulikheid hanteer word en bellers kan anoniem bly,” het Muridili gesê.