Die Openbare Beskermer (OB) het Donderdag teruggekap oor oproepe van politieke partye en belanghebbendes dat dit President Cyril Ramaphosa se antwoorde op hul Phala-Phala-vrae moet bekendmaak.
Volgens die OB “kan dit onbedoelde implikasies vir die ondersoek inhou indien die hof die aangeleentheid oorweeg en beslis, en kan dit die OB se jurisdiksie om die kwessie te ondersoek, in gedrang bring”.
’n Verklaring deur die kantoor van die OB lui:
Die Openbare Beskermer Suid-Afrika (OB) is bekommerd oor onbehoorlike politieke druk en eise vir bewyse wat aan die instelling voorgelê word as deel van die voortgesette ondersoek na bewerings van ’n skending van die Uitvoerende Etiese Kode teen president Cyril Ramaphosa om openbaar gemaak te word.
Die Grondwet van Suid-Afrika vestig die OB as ’n onafhanklike instelling wat slegs onderworpe is aan die Grondwet en die wet, en dit moet onpartydig wees en sy magte sonder vrees of vooroordeel uitoefen. Boonop verbied die Grondwet enige inmenging met die funksionering van die instelling.
Die OB beskou dus die optrede van diegene wat druk op die instelling uitoefen om die betrokke bewyse te publiseer, terwyl die ondersoek aan die gang is, as ’n inmenging in die Grondwet en doen ’n beroep op hulle om sulke optrede te staak.
Die instelling wil graag die publiek se aandag vestig op artikel 7(2) van die Wet op Openbare Beskermer 23 van 1994 wat bepaal dat:
“… No person shall disclose to any other person the contents of any document in the possession of a member of the office of the Public Protector or the record of any evidence given before the Public Protector [or] a Deputy Public Protector … during an investigation …”
Die bedoeling van die wetgewer met die opstel van hierdie bepaling was duidelik om die integriteit van ondersoeke te beskerm. Enige afwyking van die bepaling sal slegs dien om die ondersoek in gevaar te stel. Belanghebbende partye word dus versoek om geduldig te wees aangesien die uitkomste van die ondersoek op ’n gepaste tyd in ooreenstemming met artikel 8(1) van die Wet aan klaers en die publiek gekommunikeer sal word.
“The Public Protector may … in the manner he / she deems fit, make known to any person any finding, point of view or recommendation in respect of a matter investigated by him or her.”
Die OB is ook bewus daarvan dat ander belanghebbende partye gevra het dat dieselfde getuienis in hofverrigtinge aangebied word. Die instelling wil diegene wat hierdie oproep doen waarsku en hulle daaraan herinner dat artikels 6(6) van die Wet en 182(3) van die Grondwet die OB verbied om onderskeidelik die uitvoering van regterlike funksies en hofbeslissings te ondersoek.
Gevolglik, om bewyse te hê wat voor die OB is vir die doel van ’n ondersoek wat deel uitmaak van hofverrigtinge of die onderwerp is van ’n hofbeslissing, kan onbedoelde implikasies vir die ondersoek hê deurdat sou die hof die aangeleentheid oorweeg en beslis, die OB dalk nie meer jurisdiksie sal geniet om die kwessie te ondersoek nie”.