Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het die moord op die Wes-Kaapse blommeboer, Hendrik Pistorius, wie se lyk Woensdagoggend op sy plaas gevind is, veroordeel.
AfriNuus het vroeër berig dat daar beweer word dat die lyk van Pistorius (53) bedek met ’n asblik by sy plaas in New Caledonia, Piketberg, gevind is.
Didiza het hierdie “barbaarse daad” met die sterkste minagting wat dit verdien, veroordeel en ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen om alles te doen wat nodig is om die oortreders van hierdie grusame daad so gou moontlik vas te trek.
“Die moord op boere en plaaswerkers het ’n negatiewe impak op die landbousektor. Ek wil ’n beroep doen op die verbeterde verhoudings tussen boere, plaaswerkers, naburige gemeenskappe en die polisie om hierdie sinnelose moorde stop te sit,” het Didiza gesê.
Die Minister het ook haar innige en diepste meegevoel aan die Pistorius-familie, vriende en kollegas oorgedra.