Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n saak van korrupsie asook ‘n bykomende klag van poging tot moord ondersoek.
’n Verdagte (45) wat ’n lid van die polisie is, het na bewering in ’n skietgeveg betrokke geraak met ander lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid in Hoëveldpark naby Witbank. Die voorval het glo op die aand van Dinsdag 2 Augustus 2022 plaasgevind.
Volgens die polisieverslag het die skietvoorval plaasgevind waarin die genoemde lid, in diens van die SAPD as ’n ao-offisier, na bewering omkoopgeld van R500 000 van ’n lid van die publiek aangevra. Om 22h25 het die lid wat verbonde is aan die georganiseerde misdaadseenheid by die Hoofkantoor die klaer gebel en kontant geëis omdat hy ’n transaksie in die steenkoolmyn rondom Witbank-omgewing beklink het.
Daar word verder gesê dat die kontant by ’n spesifieke huis gelos is, waarna die lid na bewering die kontant afgehaal en in ’n wit Nissan NP300 bakkie geplaas het.
Lede wat op ’n geheime klopjag was, het probeer om die voertuig wat deur die verdagte bestuur is, te stop, maar die man het gereageer deur skote te skiet op die lede wat ook teruggeskiet het.
Die verdagte is glo geskiet en het enkele beserings opgedoen. Hy is toe in hegtenis geneem en dienooreenkomstig aangekla, maar hospitaal toe geneem waar hy onder polisiebewaking is.
Die polisie het ook daarin geslaag om ‘n onbekende bedrag kontant op die toneel terug te kry.
Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Emalahleni-landdroshof verskyn op die genoemde aanklagte.
Intussen het die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, lede toegejuig vir die inhegtenisneming terwyl hulle dade van misdadigheid veroordeel wat na bewering deur lede aan diens gepleeg is.
“Ons kan nooit ’n situasie toelaat dat lede hulself by misdadigheid betrek nie. Interne ondersoeke behoort ook te volg,” het die Generaal gesê.