Die Valke, saam met misdaadintelligensie en die Wes-Kaapse verkeer, het Donderdag drie mans gearresteer vir die besit van kokaïen ter waarde van meer as R400 miljoen.
Daar word berig dat die span op Donderdag, 4 Augustus 2022, inligting opgevolg het oor ’n vragmotor wat vermoedelik dwelms vervoer. ’n Ondersoek is op die N1-snelweg van stapel gestuur en die vragmotor is by Winelands Engen-garage op pad na Kaapstad opgemerk.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, is die voertuig onderskep en ’n soektog is uitgevoer toe ’n groot hoeveelheid dwelms versteek in vals houtplanke agter in die vragmotor gevind is.
Die drie mans, onderskeidelik 39, 42 en 47 jaar oud, sal na verwagting op Maandag, 8 Augustus, in die Athlone-landdroshof verskyn.