’n Vrou is met ’n vuurwapen geskiet tydens ’n argument met ’n egpaar wat haar gespot het omdat sy na bewering nie onderklere aangehad het terwyl sy by ’n supermark in Verulam, KwaZulu-Natal, inkopies gedoen het nie.
Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) het Maandag 8 Augustus om 18:14 ’n oproep ontvang van ’n lid van die publiek wat bystand versoek het nadat ’n man na bewering ’n vuurwapen op ’n vrou in die parkeerterrein van ’n supermark gerig het. Reaksiebeamptes is onmiddellik uitgestuur en het met hul aankoms drie woedende vroue ontmoet.
Een van die vrou het reaksiebeamptes ingelig dat sy saam met haar susters inkopies gedoen het toe ’n paartjie wat by die betaalpunt agter hulle gestaan het, haar na bewering gespot het omdat sy nie onderklere aangehad het nie. Die vrou het verder verduidelik dat die egpaar heeltyd opmerkings gemaak het dat hulle ’n vieslike reuk in die tou kan kry. Sy het bevestig dat sy nie onderklere aangehad het wat dalk opgemerk kan word nie, omdat sy in “leggings” geklee was. Sy het ook gesê dat sy kort nadat sy gestort het winkel toe gehaas het en besluit het om sonder onderklere te gaan.
Die vrou en haar susters het die egpaar gekonfronteer toe ’n argument ontstaan het. Die konfrontasie het voortgeduur na die parkeerterrein toe die man na bewering ’n vuurwapen uitgeruk en een van die vroue op haar been geskiet het. Die egpaar het toe in hul silwer Volkswagen Polo geklim en gery voor die aankoms van die reaksiebeamptes. Dit is bevestig dat die vrou ’n kriminele klag by die Verulam-SAPD aanhangig gemaak het.
Ongeveer 30 minute na die voorval het die silwer VW Polo by die Rusa-hoofkwartier aangekom. Die insittendes het met reaksiebeamptes gepraat en bevestig dat hulle betrokke was by die konfrontasie met die drie vroue. Die man en sy vrou het verduidelik dat hulle agter die drie vroue by die betaalpunt gestaan het, maar het ontken dat hulle lasterlike opmerkings teenoor die vrou gemaak het.
Hulle beweer dat die vrou hulle gekonfronteer het en daarna beweer het dat hulle haar gespot het omdat sy nie onderklere aangehad het nie. Die vrou het na bewering woedend geraak en op hulle in die parkeerarea gevloek. Die egpaar het na bewering by die winkel uitgestap, maar is na die parkeerterrein gevolg waar hulle na bewering aangerand is. Die man het bevestig dat hy in besit was van ’n vuurwapen (pellet gun) wat regdeur die konfrontasie in ’n holster was. Hulle het na bewering weggery om verdere konflik te vermy.
Die egpaar het ook gekies om ’n strafsaak aanhangig te maak.