Wesley Twigg, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het aan AfriNuus bevestig dat ’n 36-jarige man Dinsdagoggend in hegtenis geneem is, in verband met die moord op ’n 15-jarige tienermeisie wie se liggaam op Maandag, 1 Augustus, in ’n wielietjie-asblik in Nyanga, ’n township buite Kaapstad, ontdek is.
“Sodra hy aangekla is, sal die verdagte in die Athlone-landdroshof verskyn,” het Twigg gesê.
AfriNuus het vroeër berig dat ’n bejaarde paartjie na bewering gehoor het hoe ’n wielietjie-asblik op hul perseel getrek word. Hulle het na buite gegaan en gesien hoe ’n man die asblik stoot.
Toe hulle hom vra wat hy op die perseel doen, het hy die eiendom verlaat. Toe die asblik oopgemaak is, is die lyk gevind.
’n Moordsaak is daarna vir verdere ondersoek geopen.
Die gemeenskap van Nyanga het na die gebeurtenis hul woede oor die toenemende geweld en misdaad in die area na die strate geneem. Hulle het na die Nyanga-polisiestasie opgeruk en geëis dat die verdagte(s) in hegtenis geneem word.
Meer inligting is nie tans bekend nie.