Die Johannesburgse landdroshof het op Woensdag, 10 Augustus 2022, ’n lasbrief aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) toegestaan om ’n klopjag en beslaglegging uit te voer by die perseel van die Alexander Bay Diamonds Company, voorheen bekend as Scarlet Sky Investments 60, en verwante maatskappye.
SOE-ondersoekers het saam met die Valke ’n klopjag uitgevoer by die kantore van die diamantmaatskappy in Johannesburg op soek na inligting en bewysstukke wat sal help met ’n voortgesette ondersoek oor die sake van Alexkor, die staat se diamantmynmaatskappy.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het gesê dat die SOE ’n ondersoek ingestel het om te beslis of die maatskappy bande met die Gupta-familie het. Dit volg op berigte dat diamante van die maatskappy na bewering teen 30% onder markwaarde aan sindikate verkoop is.
Die SOE is deur president Cyril Ramaphosa gemagtig om bewerings van korrupsie en wanadministrasie ten opsigte van bemarking, waardasie, verkope en veredeling van diamante te ondersoek, ingevolge ooreenkomste wat tussen Alexkor en diensverskaffers gesluit is.
Die SOE word deur die SOE-wet bemagtig om bankstate en selfoonrekords te dagvaar, bewyse te deursoek en beslag te lê, en getuies onder eed te ondervra om sodoende bewerings wat voor die SOE gebring is, volledig te ondersoek.
In ooreenstemming met die SOE-wet sal die SOE enige bewyse wat dui op kriminele optrede wat dit aan die lig bring, na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir verdere optrede verwys.