Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het ’n aanval op die polisie in Jouberton (Klerksdorp) op Woensdag, 10 Augustus 2022, in die sterkste moontlike terme veroordeel.
Die polisie is Dinsdagaand (9 Augustus 2022) laataand in kennis gestel van ’n vermiste 10-jarige meisie. ’n Ondersoek na ’n vermiste persoon is geopen en die polisie het voorlopige ondersoeke van stapel gestuur. Die volgende oggend om 10:00 het gemeenskapslede saamgetrek en na die vermiste meisie begin soek.
Ná 16:00 is die meisie in ’n plakkershut, naby haar huis, saam met ’n man gevind wat na bewering deur lede van die gemeenskap aangerand is. Die polisie is ontbied en met hul aankoms op die toneel het hulle die man gered wat daarna in die hospitaal opgeneem is. Volgens inligting het die lede van die gemeenskap toe die bande van die polisie se Nissan-bakkie met skerp voorwerpe beskadig en dit uiteindelik aan die brand gesteek. ’n Polisiebeampte is beseer nadat hy deur ’n klip getref is.
Intussen is die 10-jarige meisie saam met haar ma na die Thuthuzela-sorgsentrum vir ’n mediese ondersoek geneem.
In hierdie stadium is ’n saak vir opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak en word ondersoek.
Die Provinsiale Kommissaris het sy misnoeë oor hierdie voorval uitgespreek en die gemeenskap versoek om saam met die polisie te werk in die bekamping van misdaad deur erkende strukture soos Gemeenskapspolisieforums (GPF). Hy het herhaal dat die aanval op die polisie ’n aanval teen die staat is en dat die skade wat aangerig is ’n negatiewe impak op dienslewering sal hê.
– Kolonel Adéle Myburgh