Heloïse Denner, VF Plus-LP en woordvoerder oor kuns en kultuur, het bevestig dat die Vryheidsfront Plus met vanjaar se Afrikaanse Taaldag diegene vier wat die taal praat en bevorder.
“Afrikaans, die hartstaal van soveel Suid-Afrikaners, moet gekoester, bewaar en uitgebou word en vele sprekers en organisasies beywer hulself juis daarvoor,” sê Denner. “Daar is egter ook diegene wat Afrikaans as ʼn politieke speelbal gebruik.”
Terwyl die aanslag teen Afrikaans geweldig is, is daar politieke partye en organisasies wat volgens die VF Plus die stryd om die beskerming van Afrikaans misbruik vir politieke gewin.
“Die ANC-regering loods gereeld aanvalle op Afrikaans as voertaal in die onderwys en andersins,” sê Denner.
ʼn Voorbeeld is die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, wat geweier het om Afrikaans as inheemse taal van Suid-Afrika te erken en die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se voorneme om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander.
“Hierdie is enkele voorbeelde wat weerspieël hoe die ANC openlik Afrikaans vir politieke punte teiken.”
Volgens die VF Plus is dit ʼn direkte gevolg van die ANC se politiekery wat miljoene Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verstoot en gemarginaliseer laat voel, omdat hul moedertaal nie erken, waardeer en gerespekteer word nie.
“Dit is in teenstryd met die sogenaamde nasiebou en sosiale kohesie-doelwitte wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan van die ANC vervat is,” meen Denner.
Volgens die VF Plus het die onderdrukking van ʼn taal egter meestal die teenoorgestelde uitwerking tot gevolg, wat beteken dat die sodanige taal floreer te danke aan sy sprekers.
Die VF Plus sê dit vier dus vanjaar diegene wat Afrikaans ná aan die hart as moedertaal en spreektaal koester.
“Diegene en organisasies wat hulself beywer vir die uitbou en bewaring van Afrikaans, wat Afrikaans daagliks ook as akademiese en wetenskapstaal gebruik en bevorder en dié wat Afrikaans as moedertaal aan hul kinders oordra, verseker dat Afrikaans van geslag tot geslag van krag tot krag gaan.
“Die gees van Afrikaans is een van oorlewing en selfbeskikking. Daar waar die regering die taal wil onderdruk, floreer dit juis.”
Die VF Plus sê dit is verbind tot die bevordering van moedertaalonderrig en die beskerming van Afrikaans as ʼn amptelike taal.