Die 23-jarige Ashley Oosthuizen van George, wat lewenslange tronkstraf in die Nakhon Si Thammarat-sentraal-gevangenis in Thailand vir internasionale dwelmhandel uitdien, se appèlsaak is vanmiddag in die Ko Samui provinsiale hof voor ’n paneel regters in Thailand aangehoor.
Lynn Blignaut, Oosthuizen se ma, het Woensdagaand by navraag aan AfriNuus bevestig dat hulle egter nog vir die vertaling van die uitspraak wag.
Alhoewel dit nie bekend is wanneer die vertaling voltooi sal wees nie, sal die nuus met die AfriNuus-span gedeel word sodra dit bekend is.
AfriNuus het gister berig dat Oosthuizen se voormalige regsverteenwoordiger, Lizelle Martin, in November verlede jaar ’n appèlaansoek in die hof gebring het wat uiteindelik Woensdag aangehoor is.
Daar is geen juriestelsel in Thailand nie. Regters alleen beslis sake op grond van die meriete wat deur die partye aangebied word. Verrigtinge word in die Thaise taal gehou, behalwe in sommige uitsonderings.
Pleitstukke word eweneens in die Thaise taal ingedien. Getuigskrifte en dokumentêre bewyse in ander tale moet in Thai vertaal word, voordat dit in die hof opgeneem word.
Daar is drie vlakke van geregshowe in Thailand: die howe van eerste instansie (soos provinsiale howe), die appèlhof en die hooggeregshof (Dika).
Indien die Oosthuizen teen ’n besluit wil appelleer, het die Appèlhof jurisdiksie om appèlle aan te hoor vir besluite wat deur die Hof van Eerste Instansie (soos provinsiale howe) geneem is, terwyl die Hooggeregshof (of Dika) jurisdiksie oor appèlle van die Appèlhof het. Die hooggeregshof in Thailand is die hoogste hof.
OPDATERING: Oosthuizen se tronkstraf is Donderdag tot 33 jaar verminder. Lees meer hier: https://afrinuus.com/2022/08/pas-bekend-33-jaar-tronkstraf-vir-ashley-oosthuizen/