Ashley Oosthuizen (23) se tronkstraf is Woensdag tot 33,4 jaar verminder.
In ’n boodskap Donderdagmiddag het Lynn Blignaut, Oosthuizen se ma, aan AfriNuus gesê: “Ons het gister uitgevind dat ons lewenslange tronkstraf verkeerd verstaan het.”
“Dit blyk dat Oosthuizen lewenslange tronkstraf (vir die res van haar lewe) opgelê is, en nie net 25 jaar nie.
“Haar appèl het goed verloop en haar vonnis is tot 33,4 jaar verminder.”
Oosthuizen se regsverteenwoordiger het weer 30 dae om teen die uitspraak te appelleer.
“Ons het uit die aard van die saak gehoop dat sy vrygespreek gaan word. Maar ons berus by ons Hemelse Vader dat Hy steeds alles onder beheer het! Ons loof en prys Hom vir elke klein wonderwerk. Ons vertroue is steeds in Hom en weet dat Sy planne vir Ashley se toekoms goed is. Ons weet ons dien ’n lewende God wat ons baie lief het en ons nooit sal verlaat of in die steek laat nie.”
“Sy planne is nie ons planne nie en dit is veel groter as wat ons ooit sal besef!”
Oosthuizen, wat oorspronklik van George in die Wes-Kaap is, sal die res van haar vonnis in die Nakhon Si Thammarat-sentraal-gevangenis in Thailand op aanklagte van internasionale dwelmhandel uitdien. Haar appèlsaak is Woensdag in die Ko Samui provinsiale hof voor ’n paneel regters in Thailand aangehoor.
Blignaut het Woensdag by navraag aan AfriNuus bevestig dat hulle egter nog vir die vertaling van die uitspraak gewag het. Die uitspraak was 17 bladsye lank.
Oosthuizen is reeds op 8 Oktober 2020 in hegtenis geneem, nadat sy glo vir ’n dwelmpakkie geteken het wat vir haar destydse Amerikaanse kêrel, Tristan Nettles, gestuur is. Sy het later ’n verklaring onderteken, wat sy nie verstaan het nie, maar wat die Thaise owerhede as haar skuldbekentenis aanvaar het.
Sy is eers ter dood veroordeel, voordat haar vonnis na lewenslank verander is. Die lewenslange vonnis is eers as 25 jaar verstaan. ’n Appèlaansoek is laasjaar in November ingedien, wat Woensdag aangehoor is.
Opdatering: Oosthuizen het appèl teen die bevindinge aangeteken. Lees meer hieronder: