Humane Society International in Afrika het in ’n nuwe navorsingstuk bevind dat 30 miljoen honde na raming elke jaar regoor Asië vir menslike gebruik doodgemaak word.
10 tot 20 miljoen honde word in China geslag, terwyl 2 miljoen in Suid-Korea en 1 miljoen in Indonesië geslag word. Verder word sowat 5 miljoen honde in Viëtnam geslag en 80 000 vanaf Thailand, Laos en Kambodja ingevoer.
“Akkurate syfers is onmoontlik om vas te stel, aangesien hondevleishandel heeltemal ongereguleerd en dikwels onwettig is,” lui die navorsing.
Watter lande is betrokke?
Die handel in hondevleis is die wydste in China, Suid-Korea, die Filippyne, Thailand, Laos, Viëtnam, Kambodja, Indonesië en Nagaland in Noord-Indië.
“Hierdie handel is goed georganiseerd, met groot getalle honde wat gesteel of van die strate geneem en oor lang afstande vervoer en wreed geslag word.”
In Suid-Korea word daar ook intensief met honde vir die vleishandelmark “in haglike behoeftige toestande” geboer.
Dit is ook bekend dat honde in sekere Afrikalande soos Ghana, Kameroen, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) en Nigerië geëet word, en daar is ook berigte dat honde vir persoonlike verbruik deur sommige boere in afgeleë dele van Switserland doodgemaak word.
Is dit waar dat sommige honde gesteelde troeteldiere is?
In die meeste Asiatiese lande is die meerderheid honde wat doodgemaak word óf familietroeteldiere wat uit huise en tuine gesteel is, gemeenskapshonde óf rondloperhonde wat uit die strate gesteel is.
Honde- en katdiewe gebruik ’n verskeidenheid metodes, insluitend gif, en verkoop die diere aan handelaars en restauranteienaars. Dit is redelik algemeen om honde op vragmotors wat na slaghuise op pad is, te vind wat steeds hul halsbande dra.
Die uitsondering hierop is Suid-Korea, waar die meeste van die honde gebore en grootgemaak word op plase in ’n “eindelose siklus van teling.”
Ly die honde?
“Erge dierelyding is endemies aan die handel in hondevleis,” lui die navorsing.
“Die diere word by die honderde agterop vragmotors geprop, en so styf in hokke gepak dat hulle nie kan beweeg nie.”
Honde word tipies dae of weke lank na hul bestemming vervoer, dikwels siek en beseer, en baie sterf weens versmoring, dehidrasie of hitteberoerte lank voordat hulle hul bestemming bereik.
Al hierdie honde sal uiteindelik by ’n slaghuis, mark of restaurant beland.
Die metode waarmee hulle doodgemaak word, verskil. In Suid-Korea is die mees algemene metode om ’n hond te slag deur elektrokusie, maar hang en slaan word ook gebruik.
In China en Viëtnam word honde gewoonlik met ’n metaalpyp doodgeslaan en dan deur ’n sny in die keel of lies uitgebloei, maar hulle kan ook gehang word, of – minder algemeen – bewusteloos in groot dromme kookwater gegooi word.
“In sommige gevalle is die behandeling van die dier voor slagting doelbewus wreed as gevolg van die misleide oortuiging dat die marteling van ’n hond voor die dood lei tot beter smaak en adrenalienryke vleis.”
Word hondevleis wyd geëet en geslag?
Die meeste mense in China eet nie hondevleis nie, en 2016-meningspeilings toon dat 69,5% dit nog nooit probeer het nie. Dit is nie deel van die hoofstroom Chinese kulinêre kultuur nie.
In 2015 het byna 9 miljoen Chinese burgers onderteken ter ondersteuning van ’n wetgewende voorstel om die slag van honde en katte te verbied, en meer as 100 000 mense het ’n massiewe saamtrek in die stad Dalian bygewoon.
Wat is die menslike gesondheidsrisiko’s?
’n Beduidende bedreiging vir menslike gesondheid in die handel van hondevleis is gekoppel aan uitbrake van trichinellose, cholera en hondsdolheid.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat die eet van hondevleis die risiko om cholera op te doen 20-voudig verhoog. ’n Aantal onlangse grootskaalse uitbrake in Viëtnam is direk daarmee verbind.
Hondsdolheid – wat jaarliks sowat 39 000 mense regoor Asië doodmaak – is gevind by honde wat vir menslike gebruik in China, Viëtnam en Indonesië verhandel word.
’n Petisie deur Four Paws het reeds 1,7 miljoen handtekeninge. Dit poog om ’n einde aan die “wrede honde- en katvleishandel” te bring.