Marcus Mdau, die DA-studenteorganisasie (Daso) se koördineerder in Mpumalanga, het met kommer kennis geneem van die verslae oor meer as 200 studente wat in Rusland vasgevang is en wat uitsetting in die gesig staar, terwyl hulle geen kos het nie as gevolg van wanbetaling van verblyf en klasgeld deur die Departement van Onderwys in Mpumalanga.
“Die departement het glo versuim om die kontrak met die agentskap wat verantwoordelik is vir die plasing van studente in verskeie instellings in Rusland te hernu weens finansiële beperkings,” sê Mdau. “Die kontrak het glo in Maart vanjaar verstryk, wat studente oorlaat om vir hulself in ’n vreemde land te sorg.”
Luidens berigte staar 229 studente van die provinsie uitsetting in die gesig nadat die departement na bewering versuim het om hul toelaes, verblyf en klasgeld van nagenoeg R55 miljoen te betaal.
“Die departemente se onbevoegdheid in hierdie verband kan meebring dat die meeste van hierdie studente vyf jaar van hul studies verloor. Die studente in Rusland studeer in verskillende rigtings soos veeartsenykunde, medisyne, wetenskap, ingenieurswese, kubersekuriteit, IT en lugvaartwetenskap,” voer Mdau aan. “Die provinsiale regering in Mpumalanga is ’n struikelblok vir studente se vordering en dit kan nie geduld word nie. Dit is die regering se plig om studente in staat te stel om hul opleiding te voltooi, nie om hulle aan hul eie ondergang in ’n vreemde land oor te laat nie.”
Daso pleit dringend dat die departement se tekortkominge nie die vordering van hierdie studente belemmer nie.
“Die Departement sal dit op hulself moet neem om seker te maak dat nie een van hierdie studente akademies en finansieel van hul onderskeie instellings uitgesluit word nie,” versoek Mdau. “Daso in Mpumalanga sal hierdie aangeleentheid eskaleer na die DA-woordvoerder oor onderwys in die provinsie, Jane Sithole om die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, te betrek om te verseker dat hierdie saak dringend aandag kry.”