President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet eerste deur die Suid-Afrikaanse regering ingelig word oor aangeleenthede van staatsveiligheid.
Die president het gesê dit is betreurenswaardig dat die Amerikaanse regering Woensdag ‘n terreurwaarskuwing uitgereik het sonder om dit met die Suid-Afrikaanse regering te bespreek.
“Dit was nogal jammer dat die Amerikaanse regering daardie tipe waarskuwing uitgereik het sonder dat hulle diep… gesprekke met ons gehad het.
“Daarna kon ons hulle betrek en verstaan presies waar hierdie waarskuwing of hierdie inligting vandaan kom. Ons doen juis dit omdat waarskuwings soos dié wel baie paniek onder ons mense saai en Suid-Afrikaners moet eerste deur die Suid-Afrikaanse regering ingelig word,” het die president gesê.
President Ramaphosa het Donderdag tydens ‘n media-inligtingsessie gepraat ná bilaterale gesprekke met sy Spaanse eweknie, president Pedro Sánchez Pérez-Castejón, by die Uniegebou.
Hy het gesê die regering werk die hele dag om die boodskap wat van die Verenigde State afkomstig is, te verifieer en noukeurig te bekyk.
“Ons agentskappe, aangesien hulle beter word in hul werk om ons mense te beveilig, is wakker en kyk baie noukeurig na hierdie tipe bedreiging en hulle gaan voort om dit te doen. Enige vorm van waarskuwing sal van die regering van die Republiek van Suid-Afrika (RSA) kom.”
Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het vroeër vandag ‘n beroep op die wêreldgemeenskap gedoen om saam te werk in die bekamping van terrorisme.
Sy het gesê die regering is bekommerd oor die terreurwaarskuwing wat deur die Amerikaanse ambassade uitgereik is oor ‘n moontlike aanval in die groter Sandton-gebied die naweek.
“Terrorisme is altyd ‘n groot bedreiging waaraan die wêreldgemeenskap moet saamwerk. Ons is baie bekommerd oor terrorisme ná die waarskuwing waaroor die Amerikaanse ambassade ons ingelig het. Dit is duidelik dat ons sekuriteitsorgane aandag aan hierdie saak gee.
“Alle lande moet verenig om terrorisme te bekamp. Dit eis ‘n verskriklike tol in die Sahal-streek en wat ons ook al saam kan doen, dink ek dat ons almal ons veiligheidsvermoëns in ‘n verenigde mag teen terroriste moet trek.”
Die Amerikaanse ambassade het Woensdag ‘n kommunikasie op sy webwerf uitgereik waarin gewaarsku word dat hy inligting ontvang het dat terroriste moontlik beplan om ‘n aanval uit te voer wat groot byeenkomste van mense op ‘n ongespesifiseerde plek in die groter Sandton-gebied teiken.
– SAnews.gov.za