“’n Waarskuwing wat die Amerikaanse ambassade gister uitgereik het oor ’n moontlike terreuraanval in die Sandton-omgewing van Johannesburg moet baie ernstig opgeneem word,” sê Natasha Mazzone van die DA in ’n verklaring.
“Gegewe die ongekende aard van hierdie soort aankondiging, deur ’n buitelandse ambassade binne ons eie grense, bring dit die vermoë van Suid-Afrika se eie intelligensiedienste onder die ANC in twyfel. Tot op hede was die reaksie deur die ANC-regering kommerwekkend onverskillig en afwesig,” meen Mazzone.
Die DA het ’n beroep op Mondli Gungubele, as die Minister wat toesig hou oor Staatsveiligheid binne die Presidensie, gedoen om dringend ’n openbare aankondiging te maak om ons burgers in te lig dat die regering van voorneme is om hierdie saak met die nodige erns te hanteer om vrese te verminder en paniek te voorkom.
“Verlede jaar, ná skouspelagtige mislukkings van Staatsveiligheid en intelligensie in die poging tot opstand in KwaZulu-Natal, het president Ramaphosa die Staatsveiligheidsmag in sy eie kantoor bewerkstellig. Nou is dit die eerste werklike openbare toets van daardie besluit,” sê Mazzone.
“Dit is ’n aanklag teen Suid-Afrika se intelligensie- en staatsveiligheid-instelling dat ’n buitelandse regering alarm gemaak het oor ’n moontlike terreurbedreiging in die land, en ons eie Staatsveiligheidsapparaat, wat deur die Presidensiële Woordvoerder bevestig is, blyk onbewus en onkant betrap te word.”
Die DA sê dit is ’n ernstige waarskuwing wat deur die Amerikaanse ambassade geopper is en die Suid-Afrikaanse regering kan dit nie wegvee deur die afwysende verklaring wat hulle gister uitgereik het nie.
“Mense wat in die Sandton-omgewing woon en sake doen, moet sterk en sigbare versekering gegee word dat die regering in beheer is van die situasie en hul veiligheid gewaarborg word,” meen die party.
“Dit is ons opregte hoop, en ons diepste wens dat die bedreiging nie waar blyk te word nie. Maar daar word van nasionale regerings verwag om op te staan teen nasionale veiligheidsbedreigings, nie af te staan nie.”