BBC berig dat Suid-Afrika se regering daarop aandring dat dit ’n Russiese oligarg toegelaat word om sy superseiljag in Kaapstad te anker, ondanks oproepe van die stad se burgemeester om dit te verbied.
Die seiljag sal volgens Marine Traffic op 9 November om 10:09 (SA-tyd) in die land arriveer.
Die R9 miljard se superseiljag, wat van Hongkong af op pad na Suid-Afrika is, behoort aan Alexei Mordashov, ’n bondgenoot van President Wladimir Poetin.
Beide die Europese Unie (EU) en Verenigde State van Amerika (VSA) het sanksies teen Mordashov opgelê.
Die Suid-Afrikaanse regering sê hy is nie gebonde aan die sanksies nie.
Maar Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hy het ’n “morele plig” om Rusland se “onregverdige oorlog” teë te staan en het belowe om die seiljag te blokkeer. Hill-Lewis het die regering versoek om beslag te lê op die 141m lange seiljag.
Vincent Magwenya, woordvoerder van president Cyril Ramaphosa het gesê: “Suid-Afrika het geen wetlike verpligting om te voldoen aan sanksies wat deur die VSA en EU opgelê is nie. Suid-Afrika se verpligtinge met betrekking tot sanksies hou slegs verband met dié wat spesifiek deur die Verenigde Nasies (VN) aanvaar word.”
Volgens hom het munisipale regerings geen wetlike beheer oor die land se grense nie.
AfriNUUS het vroeër berig dat Ramaphosa gesê het dat hy nie die Russiese seiljag sal keer om Suid-Afrika binne te kom nie.