President Cyril Ramaphosa het sy innige meegevoel aan die regering en die mense van Suid-Korea gestuur ná die tragiese lewensverlies in die hoofstad, Seoel, tydens Halloween-aktiwiteite.
Suid-Koreaanse president Yoon Suk-yeol het sedertdien ’n tydperk van nasionale rou verklaar na die ontydige dood van meer as 150 mense in ’n stormloop, met 82 wat beseer is.
Volgens berigte het Suid-Korea se regering sedertdien ’n ondersoek van stapel gestuur na een van die land se dodelikste voorvalle in jare.
Die ongeluk het Saterdag in die naglewe-distrik van Itaewon plaasgevind, waar meer as 100 000 mense na bewering saamgedrom het vir Halloween-partytjies in die gebied.
“Mense het volgens getuies in stegies vasgeval wat die hotel wou binnekom,” het ABC News berig. Die mense is daarna doodgetrap.
Intussen het president Ramaphosa gesê dat die mense van Suid-Afrika saam met die mense van Suid-Korea treur oor die lewens wat in die tragiese voorval verloor is.
“President Ramaphosa het al die beseerdes spoedige herstel toegewens,” het die president se kantoor Sondag gesê.
Intussen het president Ramaphosa die uitstekende bilaterale politieke, ekonomiese, handels- en mense-tot-mens-verhoudinge tussen Suid-Afrika en Suid-Korea herbevestig.
– SAnews.gov.za