“Die Suid-Afrikaanse regering se ‘skandalige’ besluit om die superseiljag van die Russiese oligarg Alexey Mordasjof in Suid-Afrika te laat dok, is ’n internasionale verleentheid,” sê Darren Bergman, DA-woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco).
Die DA sê dit neem kennis dat die internasionale media, soos die Wall Street Journal, oor hierdie aangeleentheid berig en spesifiek daarop wys dat Suid-Afrika die vaartuig in ons waters sal toelaat ondanks Amerikaanse en Europese sanksies op sy eienaar.
Die DA sê dit stem heelhartig saam met die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se oproep aan Naledi Pandor, minister van binnelandse betrekkinge, om die dok van die seiljag te keer.
“Die vrye wêreld het ’n bewuste besluit geneem om ’n einde te maak aan Rusland se onwettige inval in die Oekraïne en enige pogings wat nie daardie oproep ondersteun of aanmoedig nie, is immoreel,” sê Bergman.
Die seiljag sal na verwagting op 9 November in Kaapstad arriveer.
“Deur ook die vrye vloei van beweging van Russiese magnate en hul speelgoed in Suid-Afrika toe te laat, lok ons ’n mark wat onnodige en ongewenste aandag na ons oewers kan bring wat meer terreurwaarskuwings, langer grys noteringsperiodes kan sien en dalk selfs lei tot ’n hiperinflasie,” sê Bergman.
‘Met die Suid-Afrikaanse regering aan die verkeerde kant van internasionale reg,’ sê die DA dit is verplig om maniere te soek sodat hierdie skip gestop kan word sodra dit Suid-Afrikaanse waters binnevaar.
“Soveel as wat die Suid-Afrikaanse regering nie wetlik gebonde is aan die VSA en EU-sanksies nie, is ons ook nie wetlik verplig om die seiljag toe te laat dok nie.”
As die party wat die nasionale regering aanspreeklik hou, voeg die DA sy stem by dié van Kaapstad se burgemeester Hill-Lewis en smeek dit president Ramaphosa en minister Pandor om op te staan vir internasionale reg en toegang van hierdie seiljag te weier.