Herman Maritz, ‘n oud-Matie-student en een van die ontwikkelaars van die baie gewilde toepassing, EskomSePush (ESP), het gedurende sy Desembervakansie aan die toepassing gewerk.
Herman het sy Meestersgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
“Toe Herman Maritz en Dan Southwood- Wells hierdie toepassing agt jaar gelede konseptualiseer het, sou hulle nooit kon dink hoe ‘n belangrike bron van inligting dit vir meer as 6.5 miljoen gebruikers sou word nie,” skryf matiesalumni.com.
Volgens Herman het hy en Dan mekaar ontmoet by Entersekt, ‘n mobiele sekuriteitsmaatskappy in Stellenbosch, waar Herman in 2010 ‘n sagtewareingenieur was.
Hy en Dan het die toepassing aan die einde van 2014 geskep omdat hulle wou weet wanneer beurtkrag plaasvind sodat hulle hul Desembervakansie kon beplan.