“Om die huidige mislukte minister van polisie, Bheki Cele, as die volgende minister van intelligensie in ag te neem, is die mees absurde en onlogiese ding wat ons nog ooit gehoor het,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society. “As dit ’n werklikheid word, sal Suid-Afrika se politieke en algemene misdaadprobleem drasties vererger.”
Onder Cele se wanbestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die moordsyfer sy hoogste vlakke ooit bereik, met 84 mense wat elke dag vermoor word.
“Tydens die Julie 2021-onluste wat rondom KwaZulu-Natal plaasgevind het, het Cele se gebrek aan polisie-intelligensie die situasie aansienlik vererger wat gelei het tot die verlies van lewens sowel as massiewe ekonomiese verliese vir die land en individue.
“Verder het Cele se ondoeltreffende leierskap as Nasionale Kommissaris en Minister van Polisie gelei tot ’n negatiewe ingesteldheid onder baie SAPD-lede, met gesinsgeweld binne polisiegeledere wat drievoudig toegeneem het,” meen Cameron.
“Alles waarmee Bheki Cele betrokke raak, word ’n afgronde mislukking,” het Cameron gesê. “Hy behoort absoluut geen rol in enige vorm van regering te speel nie.”
Action Society se veldtog om Bheki Cele te dwing om te bedank het meer as 130 000 handtekeninge.
AfriNUUS kan bevestig dat die nuwe kabinet die week aangekondig sal word. Die uitslag van die kabinetskommeling sal vanoggend om 10:00 bekendgemaak word.