AfriNUUS kan onthul dat die Russiese skip, Lady R, wat in Desember 2022 by Simonstad se vlootbasis vasgemeer het, ammunisie (waarskynlik patrone) ter waarde van R21 miljoen aan Suid-Afrika gelewer het.
Dit volg in die nasleep van bewerings dat Suid-Afrika wapens en/of ammunisie aan Rusland verskaf het, wat volgens ons bronne heel waarskynlik was met die skip se terugkeer na Rusland.
Luidens ’n verslag wat strek van 1 Januarie tot 31 Desember 2020 het Suid-Afrika 4,5 miljoen eenhede se ammunisie teen R9 945 000 (bykans R10 miljoen) van Rusland bestel. Dit terwyl Suid-Afrika tussen 1 Januarie en 31 Desember 2019 nagenoeg 5 miljoen eenhede se ammunisie teen R11 050 000 (R11 miljoen) van Rusland bestel het.
’n Betroubare bron het bevestig dat dit die bestellings is wat in Desember 2022 in Suid-Afrika aangekom het, aangesien geen bestellings ná die COVID-19-pandemie gemaak is nie.
Suid-Afrika het in dieselfde periode ook ammunisie van lande soos Serwië, Singapoer, Brasilië, Tsjeggiese Republiek, Republiek van Letland, Noorweë, Roemenië, en die Verenigde Koninkryk bestel.
Dié inligting is bevat in twee verslae wat jaarliks aan die staande komitee vir verdediging voorgelê is.
Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging, het ook aan AfriNUUS bevestig dat volgens hom, en inligting tot sy beskikking, dit die vrag is wat Lady R by Suid-Afrika afgelaai het.
“7 vraghouers met die ongeveer 9,5 miljoen eenhede is met Lady R se aankoms afgelaai,” het Marais aan AfriNUUS gesê. “Daai 7 vraghouers het daai nag by die vlootbasis in Simonstad aangekom.”
Marais sê volgens sy inligting is hy verseker dat ammunisie ook op Lady R gelaai was nadat die ammunisie van Rusland afgelaai was. “Dit was glo geskenk, asof dit regverdig is om ammunisie onwettig te laai en uit te voer.”
Dit is egter nie deur die regering bevestig of enige vrag ammunisie of wapens sy pad gevind het op die vragskip van Simonstad na Rusland nie, wat nou deel is van ‘n ondersoek wat deur die presidensie van stapel gestuur is.
Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, kon volgens Marais nie uitwei oor die inhoud van die vragskip nie.
Iewers tussen 20:00 en 22:00 op Dinsdag, 6 Desember 2022, het die Lady R by die vlootbasis in Simonstad vasgemeer. Die gesanksioneerde skip het sy mariene opsporingstelsel afgeskakel, en sy aankoms was onverwags en omstrede. Vragte van die skip is snags onder gewapende bewaking glo gelaai en afgelaai onder die dekmantel van die duisternis en tydens beurtkrag. Op Vrydag, 9 Desember 2022, het die skip vertrek en sy pad na Rusland gevind.