Internasionale voortvlugtige Ruth Lawrence wat in Oktober verlede jaar in Bloemfontein in hegtenis geneem is, is Woensdagaand, 24 Mei 2023, terug na Ierland uitgelewer op aanklag van dubbele moord.
Ruth Lawrence en haar eks-verloofde, Neville van der Westhuizen, is albei gesoek vir ’n dubbele moord wat gedurende 2014 in Ierland plaasgevind het.
Die voortvlugtige Ruth (42) het geskuil sedert die liggame van Eoin O’Connor (32) en Anthony Keegan (33) met skietwonde aan die kop gevind en in 'n vlak graf begrawe is.
Sy en haar mede-moordverdagte en minnaar Neville van der Westhuizen (40), het kort ná die moorde na sy geboorteland Suid-Afrika gevlug en albei het as tatoeëerkunstenaars gewerk wat deur die land (Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein) gereis het vir werk.
Neville van der Westhuizen, wat tans 15 jaar tronkstraf uitdien vir nog ’n moord van 'n 19-jarige wat hy in KwaZulu-Natal gepleeg het, is ook in hegtenis geneem op die uitleweringsversoek vir die dubbele moord in Ierland. Sy uitleweringsproses is tans in die Durbanse landdroshof aan die gang.
Die opsporing van Lawrence en haar uitlewering kom as gevolg van samewerking tussen die Ierse Nasionale Polisie, Garda Siochana wie se spanlede vroeër die week in Suid-Afrika aangekom het, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Interpol en die Valke.
Die voortvlugtige, Ruth Lawrence, is op Woensdag 24 Mei 2023 van Bloemfontein na Pretoria begelei vanwaar sy uiteindelik later die aand uitgelewer is. Lawrence is aan die Ierse polisie oorhandig wat haar daarna na Ierland sou terugneem op aanklagte van moord.
In die afgelope vyf jaar het lede van Interpol in Pretoria suksesvol meer as 60 voortvlugtiges in hegtenis geneem wat op uitleweringsversoeke en Interpol se Rooi Kennisgewings gesoek word. Van die 60 gesoekte vlugtelinge wat gearresteer is, is 42 vlugtelinge suksesvol uitgelewer en ’n verdere 27 uitleweringsversoeke is tans voor verskeie howe in Suid-Afrika.
Interpol in Pretoria het ook daarin geslaag om 11 gesoekte voortvlugtiges wat intussen terug aan Suid-Afrika uitgelewer is om verhoor te word, suksesvol op te spoor en te reël vir die aanhouding.
'n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag het gesê: “Aangesien Ruth Lawrence nie beswaar gemaak het teen uitlewering nie, was dit relatief maklik om die papierwerk te doen en hoewel sy uitlewering kon teengestaan het, het sy verkies om dit nie te doen nie.”