Sidney Berry (25) van Groot Brakrivier is Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof skuldig bevind aan strafbare manslag.
Dit volg ná die dood van Marilize Nortier (18) wat in ‘n motorongeluk gesterf het waarin Berry die bestuurder was.
Die saak is Dinsdag 30 Mei tot Donderdag 13 Julie vir vonnisoplegging, en sodat nodige verslae bekom kan word, uitgestel.
Nortier is op 22 September 2019 in die vroeë oggendure dood toe die BMW waarin sy ʼn passasier was, omgeslaan en in ʼn watersloot 10km buite Oudtshoorn op die Kango Grotte-pad te lande gekom het.
Berry was glo bewusteloos ná die ongeluk, maar het daarna sy bewussyn herwin. Hy het glo daarna uit die voertuig geklim en hulp langs die pad gesoek.
Berry het getuig dat hy nie geweet het dat daar iemand saam met hom in sy motor was nie.
’n Motoris het Berry om 06:45 langs die pad opgemerk en na sy huis geneem om te gaan stort. Hy is daarna teruggeneem na die ongelukstoneel.
Dit is eers toe dat hy by ’n polisiebeampte verneem het dat daar iemand in die motor was. Berry is later vir beserings aan sy gesig, kop, arm, skouer en heup na sy dokter in Oudtshoorn en toe na die George MediClinic geneem.
‘n Plaaswerker het glo om 07:40 ‘n voertuig in die sloot opgemerk en die liggaam in die voertuig gevind. Sy was nog in haar sitplek vasgegordel en haar hele liggaam was onder water. Die ongeluk het luidens die getuienis om 03:18 die oggend plaasgevind.
Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) het vroeër bevestig dat Berry tereg staan op aanklag van strafbare manslag, versuim om hulp op ʼn ongelukstoneel te verleen, asook roekelose en nalatige bestuur.
Die staat kon egter nie daarin slaag om te bewys dat Berry versuim het om hulp op die ongelukstoneel te verleen nie.
Hy is Dinsdag onskuldig bevind op twee aanklagte, naamlik roekelose en nalatige bestuur, asook versuim om op ‘n ongelukstoneel hulp te verleen.
Berry het onskuldig gepleit en volgehou dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Beide het egter die aand voor die ongeluk by ‘n kuierplek in Oudtshoorn, Die Braaikraal, gekuier.
Berry en Nortier was vroeër die aand in gesprek en toe hy en ’n vriend kort voor toemaaktyd wou ry, het sy by hulle aangesluit. Nadat hy sy vriend buite Oudtshoorn afgelaai het, was hy en Nortier met die Kango Grotte-pad onderweg na Oudtshoorn toe die ongeluk gebeur het.
Berry het bewerings tydens sy verhoor dat hy dié aand by die kuierplek shooters gedrink het, ontken. Hy het ook ontken dat hy te vinnig gery of roekeloos bestuur het.
Volgens die motoris wat Berry opgelaai het en na sy huis geneem het, het hy so na drank geruik dat hy sy motor se vensters moes afdraai.
Die landdros het egter gesê daar was nie genoegsame getuienis dat Berry onder die invloed was ten tyde van die ongeluk nie, maar dat hy wel die dood van Nortier onregmatig veroorsaak het, wat hom skuldig maak op die aanklagte van strafbare manslag.
Die nadoodse ondersoek het bevind dat Nortier veelvuldige beserings opgedoen het en dood is weens verdrinking.
Marilize Nortier was ‘n matriekleerling aan Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn ten tyde van die voorval. Haar pa, Morné, was ook ‘n onderwyser by dié skool en teenwoordig met die hofverrigtinge. Marilize was ook Morné se enigste kind.
Berry is uit op waarskuwing tot sy volgende hofverskyning.
Op 23 Mei 2023 is Nortier se “vierde verjaarsdag in die Hemel” gevier. Jene Snyman het op Marilize se Facebookblad die volgende foto gedeel met die teks: “Dae soos vandag wens ek dat die Hemel besoektye kon hê en ek jou n stywe druk kon gee. Ek weet jy baljaar daar tussen al die Engele. Viraltyd in ons harte mooiste men.”
Jene Snyman het dieselfde ‘n jaar gelede op Marilize se Facebookblad geplaas: