Brigadier Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het die dood van een van die ondersoekers in die Thabo Bester-ontsnappingsaak bevestig.
“Omstandighede rondom die senior beampte se dood, wat ook die hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad in die Vrystaat is, bly die onderwerp van ’n polisieondersoek,” het Mathe gesê.
Die polisieondersoeker is intussen as brigadier Jackson Mkhauseli (59) geïdentifiseer. Daar word beweer dat hy sy eie lewe geneem het nadat hy die hofsaak van dr. Nandipha Magudumana vanoggend bygewoon het. AfriNUUS verneem dat hy na bewering sy eie lewe geneem het deur homself in sy voertuig by ‘n staatsgarage in Bloemfontein te skiet. Sy lyk is in sy voertuig gevind.
“Die SAPD-bestuur wil nie hierdie aangeleentheid in hierdie vroeë stadium in die openbare domein bespreek nie,” lui ’n verklaring verder.
Psigososiale dienste is intussen aan die familie en kollegas van Mkhauseli uitgestuur om hul by te staan.
Die Nasionale Kommissaris van die SAPD, Generaal Fannie Masemola, het die lid beskryf as ’n hardwerkende, lojale en toegewyde speurder wat 31 jaar in diens van die polisie was.
“Hy het homself deur die jare bewys as ’n hoogs bekwame speurder met ’n magdom ervaring en kennis in die speuromgewing. Sy vertrek laat ’n leemte in die SAPD-speuromgewing,” het Masemola gesê.
Voel jy depressief?
Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) het ʼn toegewyde hulplyn. Skakel 0800 55 44 33 tolvry of besoek www.sadag.org.