Foto bron: Aphumelele Mdlalane
Een van die drie beskuldigdes in die Thabo Bester-tronkbreek-sage, Thabang Mier, is borgtog van R10 000 toegestaan. Die drie het Maandagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof in die Vrystaat verskyn.
Mier, Joel Makhetha en Moeketsi Ramolula staan tereg op aanklagte van hulp aan ‘n gevangene (Thabo Bester) om uit wettige aanhouding te ontsnap. Die G4S-werknemers is verlede week Maandag in hegtenis geneem. Die aanklagte teen Makhetha en Moeketsi sluit ook korrupsie en die skending van ‘n lyk in. Die twee sal volgende week Dinsdag weer in die hof wees vir borgtogaansoek terwyl Mier op 8 Augustus saam met Bester, Dr. Nandipha Magudumana en ander sal verskyn.
Die jongste arrestasies bring die aantal mense wat in verband met Bester se ontsnapping in hegtenis geneem is op 12 te staan, insluitend Bester self. Bester het sy eie dood nagemaak en in Mei verlede jaar uit die G4S-beheerde Mangaung-korrektiewe sentrum ontsnap. Hy is in April 2023 deur Tanzaniese owerhede in Arusha weer in hegtenis geneem nadat hy saam met Dr. Magudumana, landuit gevlug het.
Oorspronklike bron: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/hof/bester-ontsnapping-1-van-3-tronk-werknemers-kry-borgtog-20230703