Foto bron: Verskaf
Van beweerde ongerymdhede in die aankope van PBT en sekuriteitstenderbedrog na skynbare wanbetaling van pensioenbydraes en diamante wat geheimsinnig verdwyn, lyk dit asof elke week ‘n nuwe arrestasie of hofverskyning van ‘n ampsdraer of senior bestuurder in die Noord-Kaapse provinsiale administrasie meebring. Die Spesiale Ondersoekeenheid stel tans ondersoek in na alles wat die Noord-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsagentskap (NCEDA) sedert 2012 aangevang het.
As hierdie klimaat met kortsigtige beleidsbesluite gekombineer word, word dit onmoontlik om eerlike handel te dryf of beleggersvertroue te kweek. NCEDA moet ‘n sleutelrol in die voorgenome ontwikkeling van Boegoebaai se hawe speel, maar sal beleggers hul handelsmerk wil koppel aan ‘n agentskap wat onder ‘n donker wolk beweeg? Of aan ‘n administrasie wat veroordeelde misdadigers as senior bestuurders beskerm?
Die entiteit se samesmelting met die Noord-Kaapse toerismeraad, soos vandeesmaand geproklameer, skep nie vertroue dat die Noord-Kaapse provinsiale regering tans gerat is om volhoubare ontwikkeling aan te spoor nie. Die mandate vir die saamgesmelte entiteit bly vaag, wat beteken dat die koste verbonde aan die wetgewing onbekend is. Ons kan dus nie met enige sekerheid sê dat die samesmelting enige ware besparing vir die provinsiale beursie sal beteken nie.
Dit is geen verrassing dat beleggersvertroue in Suid-Afrika gedemp is nie. Besighede wil nie die koste van korrupsie betaal wat met ANC-regerings geassosieer word nie. Kwartaallikse arbeidsverslae bevestig egter dat besighede en entrepreneurs hul wend na beleggingsvriendelike gebiede wat deur die DA regeer word, want besighede kan daar groei en gedy. NCEDA word krimineel ondersoek terwyl hul Wes-Kaapse eweknie ‘n handelskontrak met China aangegaan het wat die Wes-Kaapse beurs elke jaar met R300 miljoen gaan aanvul.
Hierdie tipe ekonomiese ontwikkeling is slegs moontik met ‘n eerlike omgee-regering aan bewind.