Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, het gevra vir ‘n verbod op die uitvoer van skrootmetaal, aangesien die diefstal en vandalisme van kritieke spoorinfrastruktuur die land se ekonomie saboteer.
“Ons is onomwonde in ons oproep om die uitvoer van skrootmetaal te verbied en sal enige maatreël ondersteun wat ons nader aan hierdie werklikheid sal bring,” het die Minister Maandag gesê.
Tydens ‘n media-inligtingsessie oor die witskrif oor die Nasionale Spoorbeleid, het hy gesê die neem van hierdie stap sal die regering se ingrypings versterk wat daarop gemik is om openbare bates te beskerm en die diefstal van kabels en ander metale minder winsgewend te maak.
“Die misdadigheid agter die diefstal en vandalisme van spoorweginfrastruktuur wat ons stasies en spoornetwerk blootgelê het, vereis buitengewone ingrypings wat verder gaan as net om sekuriteit te versterk.
“Ons moet hierdie ‘perverse aansporing’ uitskakel deur die uitvoer van skrootmetaal te verbied en dus die mark wat hierdie misdadigheid aanhelp, beperk.
“Die korporatiewe sektor moet ons pogings versterk om ‘n beslissende slag te gee aan hierdie misdadigheid wat moontlik gemaak word deur skroothandelaars wat gesteelde skrootmetaal koop,” het Mbalula gesê.