Eskom het pas gedurende ’n regstreekse media-inligtingsessie bevestig dat die kragmaatskappy se beskikbare energie tans 62% onder sy prestasievlak is.
Eskom het verder onthul dat die voortuisigte vir beurtkrag oor die komende maande moontlik in fases sal toeneem (sien grafiek aangeheg).
Eskom het die ergste scenario geskep, wat voorspel dat daar tot 104 dae van beurtkrag tussen April en Augustus vanjaar kan wees. Dit sal na verwagting tussen fase 2-beurtkrag en hoër as fase 3-beurtkrag wissel.
Eskom het verder onthul dat daar in die somermaande van 2022/2023 tussen 16 dae en 191 dae van beurtkrag voorspel word, wat wissel tussen fase 1 en hoër as fase 4.
Verder, nie een van Eskom se kragstasies funksioneer “teen volle kapasiteit” nie.
“Dit is soos ’n motor wat jy in eerste rat teen vinnige spoed vir ’n lang tyd wil ry,” sê Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, “sonder om hom in te vat vir ’n diens.” Hy verwys na die kragstelsel wat glo al vir twee dekades agteruit gaan, met geen tot minimale instandhouding.
Eskom sê dat die R40 miljard skuldlas van munisipaliteite die kragmaatskappy ’n groot knou toedien, sowel as kragkabeldiefstal en ou, sukkelende kragstasies.
Terwyl Eskom met die Nasionale Vervolgingsgesag werk om geld by staatskapers te verhaal, vat die regering glo nie Eskom se pleidood vir meer kragopwekkingskapasiteit ernstig op nie.
Die werklikheid is dat dit net erger sal raak voor dit beter raak, meen Oberholzer. Die grafiek hier onder toon ’n duidelike skerp toename in “onbeplande onklaarrakings van kragopwekkingseenhede” wat die huidige hoofredes vir beurtkrag is, wat op kort kennisgewings ingestel word.
Dit terwyl fase 2-beurtkrag moontlik vir die res van die week sal voortduur.
Eskom het tans 38 dae se steenkoolvoorraad, maar die vraag na elektrisiteit gedurende spitsye veroorsaak dat beurtkrag gedurende daai periodes ingestel moet word.
Teen die einde van Maart 2022 is die energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) van Eskom 62% onder die beoogde prestasievlak.
’n Sleutelbydraer tot die lae EAF was hoë vlakke van beplande instandhouding oor die somermaande.
Eskom het tussen 1 Januarie 2022 en 10 Mei 2022 altesaam 31 dae van beurtkrag ingestel, teenoor die 26 dae tussen 1 Januarie 2021 en 10 Mei 2021.
Eskom beoog om die Koeberg-kernkragsentrale se lewensjaar met 20 jaar vanaf 2024/2025 te verleng, in ’n poging om broodnodige opwekking van elektrisiteit te verseker.