LUR vir Onderwys in Limpopo, Polly Boshielo, het haar skok uitgespreek oor die beweerde verkragting van twee laerskoolleerders wat agt en nege jaar oud is.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die twee laerskoolmeisies van Gogobole in Limpopo op Donderdag, 9 Junie 2022, van die skool af huis toe gestap, toe twee onbekende mans in blou oorpakke hulle na bewering gegryp, met geweld in nabygeleë bosse langs die Chumbrys-plaas ingesleep en albei die meisies verkrag het.
Die verdagtes het van die toneel gevlug.
Die twee getraumatiseerde slagoffers het hul voogde ingelig toe hulle by hul onderskeie huise kom, waarna dit by die polisie aangemeld en twee verkragtingsake geopen is.
LUR Boshielo het saam met die polisie die gemeenskap versoek om met inligting na vore te kom wat kan help om die arrestasies van die verdagtes te verseker, sodat geregtigheid in hierdie sake kan seëvier.
“As ’n departement veroordeel ons die voorval ten sterkste en is ons geskok oor die feit dat diegene wat leerders behoort te beskerm, diegene is wat hul as prooi gebruik. Almal van ons moet verseker dat die vermeende oortreders sonder enige versuim in hegtenis geneem en voor die hof gebring word. Leerders verdien beskerming waar hulle ook al is – binne en buite die skool”.
Maatskaplike werkers van beide die departemente is teenwoordig om psigososiale ondersteuning aan die slagoffers te verskaf.
LUR Nkakareng Rakgoale het ook die aanval op die kinders veroordeel.
“Hierdie gruwelike dade is ‘n direkte skending van kinderregte en ons doen ‘n beroep op gemeenskappe om met die regering saam te werk om te verseker dat kinders te alle tye beskerm en versorg word,” sê LUR Rakgoale.