Andrew Whitfield, DA-woordvoerder vir polisie, het bevestig dat die DA ’n petisie geloods het wat ’n beroep op president Cyril Ramaphosa doen om Bheki Cele, minister van polisie, af te dank.
Die DA het in Maart vanjaar ’n mosie van wantroue teen minister Cele en sy kabinetskollegas ingedien.
“Ons het ’n aantal redes gelys waarom sy kop moet rol, insluitend sy steun vir die omstrede Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer wat poog om wapeneienaarskap vir selfverdediging onwettig te maak,” sê Whitfield. “Die massiewe DNS-agterstand, versuim om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 2019 landelike veiligheidstrategie ten volle te implementeer en sy weiering om die geheimediensbegroting in Desember 2020 af te teken, was van die redes.”
Whitfield sê dat minister Cele se houding teenoor sy mandaat om Suid-Afrikaners te beskerm en te dien, weereens geopenbaar is toe hy met sy ‘vele mislukkings’ gekonfronteer is. “In plaas daarvan om na die verskillende bekommernisse van Gugulethu-inwoners te luister, het hy gekies om op ’n aktivis te skree waarna polisiebeamptes die aktivis van die perseel begelei het.”
Die DA sê dat minister Cele niks gedoen het om die kritieke tekortkominge van die SAPD aan te spreek nie. Dit het bygedra tot verhoogde geweldsmisdade, met misdaadstatistieke wat die afgelope kwartaal getoon het dat 67 mense elke dag vermoor word, 153 mense elke dag verkrag word en 364 gewelddadige rooftogte elke dag voorkom.
Die DA meen dat president Cyril Ramaphosa die volgende moet prioritiseer, sodra minister Cele afgedank is:
- Verhoog die aantal sigbare polisiëringsstewels;
- Professionaliseer die polisiediens deur mense aan te stel wat die land se burgers dien;
- Roei die agterstand in DNS-toetse uit;
- Skep landelike gemeenskapspolisiëringseenhede in elke landelike polisiestasie om bykomende beskerming aan hierdie gebiede te bied, sodat landelike gemeenskappe weer veilig kan voel;
- Lei en vermeerder die aantal polisiereserviste om die SAPD te help met die vermindering van misdaadvlakke;
- Wentel polisiëringsmagte af na bevoegde provinsiale en plaaslike regerings;
- Brei die magte van bestaande metropolitaanse en plaaslike wetstoepassingsbeamptes uit;
- Versterk gemeenskapspolisiëringsvennootskappe met buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), nie-regeringsorganisasies (NRO’s), kerke, privaat sekuriteit, plaaslike wetstoepassing en metropolitaanse polisie.
Die party het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om by die veldtog aan te sluit en die petisie te onderteken.
1 Kommentaar
Die ANC regering is so korrup en diepgewortel sleg. Die probleem is; wie hom ookal vervang, is waarskynlik nog slegter.