Lirandzu Themba, woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie, het aan AfriNuus gesê dat Cele die families van sommige van die agt slagoffers van die Krugersdorpse bendeverkragtingsvoorval ontmoet het en ’n beroep op die Suid-Arikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen het om die aanvallers in hegtenis te neem. 84 mense is reeds deur die SAPD vasgetrek, met behulp van die polisie se hommeltuie.
Bheki Cele het Sondag 31 Julie ses van die agt oorlewendes van die bendeverkragtingsvoorval wat die land geskok het, saam met hul families, by die Alexandra-polisiestasie ontmoet. Van die oorlewendes is sangers, modelle, aanbieders en professionele grimeerkunstenaars. Die vergadering volg op die bendeverkragting en gewapende roof van agt vroue tydens ’n beweerde aanval op ’n videoproduksie in West Village, Krugersdorp, op Donderdag, 28 Julie.
Tydens die vergadering is dit aan die lig gebring dat sommige van die oorlewendes so jonk as 19 jaar oud was, en minister Cele het hulle en hul gesinne verseker dat die polisie geen steen onaangeroer laat in die soeke na hul aanvallers nie.
“Hierdie jong vroue is getraumatiseer en is nie in ’n goeie toestand, geestelik of andersins nie. Dit is hoekom die Gautengse LUR van gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, sielkundiges en raadslede gestuur het om geestesgesondheidsorg aan hulle te verskaf. Ek het ook die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, versoek om meer ondersteuning te bied vir hierdie jong vroue wie se enigste doel was om ’n inkomste te verdien, toe sulke brutaliteit op hul afgedwing is.”
Terwyl ondersoeke na die beweerde roof en verkragting aan die gang is om die verdagtes op te spoor, gaan polisieoperasies om onwettige bedrywighede hok te slaan en ongedokumenteerde persone sowel as gesoekte misdadigers in die West Village-omgewing vas te trek voort. Hierdie operasies bestaan uit multi-dissiplinêre spanne van die SAPD se misdaadintelligensiespan, die spesiale taakmag, die nasionale intervensie-eenheid, die taktiese reaksiespan, K9-eenhede, Flying Squad, hoofwegpatrollie, SAPD-lugpatrollie asook die departement van binnelandse sake en ander private veiligheidsmaatskappye.
Die ontplooiing van hommeltuie om beamptes op die grond by te staan en verdagtes in die myngebied op te spoor, het gelei tot die inhegtenisneming van minstens 84 mense. Twee verdagtes is dood tydens ’n skietgeveg met die polisie en terwyl nog ’n gewonde verdagte in die hospitaal aansterk.
Alle verdagtes sal Maandag 1 Augustus in die Krugersdorp-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van die oortreding van die Immigrasiewet en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Minister Cele het die massa-inhegtenisnemings verwelkom. “Die polisie is in die lug en op die grond en ontbloot misdadigers, ongeag in watter gat hulle ook al skuil. Ons weet hierdie gemeenskap was uitgesproke oor misdadigers wat hul lewens ‘n hel daar maak. Ek is ook tevrede met die inligtingsessie deur die speurspanne oor die vordering om DNS-bewyse te versnel om van die verdagtes met die verkragting van die jong vroue te verbind,” het Cele afgesluit.
Die SAPD bly bemoedig deur die onvermoeide pogings van die SAPD-speurders om ‘n deurbraak in hierdie saak te verseker.
Die Minister bly egter bekommerd dat die oorlewendes van bendeverkragtings na bewering geteister word deur sommige mediahuise wat onderhoude eis. Die Ministerie ontmoedig hierdie optrede wat gesinne as indringend en onsensitief ag tydens ‘n traumatiese beproewing. Die Minister sal die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) hieroor betrek.
Die slagoffers se identiteite is aan AfriNuus bekend, maar sal nie bekendgemaak word nie.