Tweehonderd nege-en-vyftig (259) renosters is in die eerste ses maande van 2022 vir hul horing in Suid-Afrika gejag, wat ’n effense toename vanaf dieselfde tydperk verlede jaar is.
Die aantal renosters wat tussen Januarie en Junie 2022 gestroop is, is 10 meer as die 249 wat in die eerste ses maande van 2021 landwyd gestroop is.
“Onlangse neigings in renosterstropery toon ’n wegbeweeg van die Krugerwildtuin na private reservate en KwaZulu-Natal waar die meerderheid renosters vanjaar doodgemaak is.
“Dit maak dit des te meer belangrik vir die nasionale regering om sy fokus te verskuif na die ondersteuning van provinsiale owerhede en private reservate in die oorlog teen renosterstropery,” het Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Maandag gesê.
Vanaf Januarie tot einde Junie 2022 is 82 renosters vir hul horing in die Krugerwildtuin gestroop.
“2022-stroperystatistieke toon ’n verlies van 210 renosters op staatseiendomme en 49 in privaatparke. Soos aangedui, is KwaZulu-Natal die hardste getref gedurende hierdie tydperk, wat ’n verlies van 133 renosters aangeteken het. Dit is meer as drievoudig die 33 renosters wat in die eerste ses maande van 2021 doodgemaak is,” het die minister gesê.
Inhegtenisnemings en vervolgings:
Tussen Januarie en Junie is 69 mense in hegtenis geneem in verband met renosterstropery en die handel in renosterhorings. Hiervan is 13 vermeende stropers by die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.
Die aantal suksesvolle arrestasies en vervolgings wat die afgelope ses maande aangeteken is, kan toegeskryf word aan die voortgesette samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe, insluitend die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Valke en die Groen Skerpioene, Doeanebeamptes en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Hierdie pogings word ondersteun deur private sekuriteitsmaatskappye.
“As gevolg van die voortgesette werk van geïntegreerde handhawingspanne by OR Tambo Internasionale Lughawe, is vier vermeende renosterhoringhandelaars tussen Januarie en Junie vanjaar gearresteer omdat hulle 56 renosterhorings landuit probeer smokkel het.
“In een geval het samewerking tussen die Valke, Maleisië en Katar-owerhede gelei tot die arrestasie van nog ’n vermeende renosterhoringsmokkelaar en sy versameling renosterhoringstukke by die Doha-lughawe in Katar. Hierdie arrestasie demonstreer die sukses van land-tot-land-samewerking om die handel in wild op internasionale vlak te bekamp,” het die minister gesê.
Die Valke werk ook saam met die Amerikaanse Vis- en Natuurlewe-diens in ’n ondersoek wat voortspruit uit die ontdekking in Junie van ’n verdagte pakkie by FedEx wat vir die Verenigde State van Amerika (VSA) bestem was.
Die pakkie het agt kilogram renosterhoringsstukke bevat wat as houtkunsstukke versteek was.
“ ’n Aantal soek- en beslagleggingsoperasies het landwyd plaasgevind, met die Valke wat een verdagte gearresteer en 29 renosterhorings gekonfiskeer het tydens ’n operasie by stoor- en verpakkingsfasiliteite in Bedfordview waar renosterhorings voorberei en verpak word vir die onwettige markte in Suidoos-Asië.
“In gekombineerde wetstoepassingsoperasies is twee verdagtes in Junie gearresteer toe hulle deur die snelwegpatrollie in Bedfordview voorgekeer is en gevind is dat hulle in besit was van twee nuwe renosterhorings. Twee verdagtes, een ’n voormalige veldwagter van Ezemvelo-KZN Parke, is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem nadat hul voertuig deursoek is en beslag gelê is op twee renosterhorings,” het Creecy gesê.
Een van die beskuldigdes is voorheen vir die besit van renosterhorings in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.
Op 23 April 2022 is ‘n geïntegreerde operasie uitgevoer om geldwassery en korrupsie wat verband hou met renosterhoringhandelaktiwiteite binne die Krugerwildtuin aan te spreek.
“Verskeie deursoekings- en beslagleggingslasbriewe is by verskeie persele in en om die park gemagtig en uitgevoer met die doel om die bedrywighede van sommige van die hoofteikens effektief af te breek.
“’n Multidimensionele span onder leiding van die Valke, met die ondersteuning van die Krugerwildtuin, is saamgestel en persele in Limpopo en Mpumalanga is tydens die klopjag deursoek.”
Drie verdagtes is tydens die klopjag in hegtenis geneem, wat twee veldwagters in die Krugerwildtuin ingesluit het.
Creecy het gesê die inhegtenisnemings en die sukses van die operasie het ’n beduidende impak op die renosterstropery-aktiwiteite in die Krugerwildtuin gehad, en het ’n sterk boodskap uitgestuur dat korrupte en onwettige aktiwiteite nie geduld sal word nie.
Een van die veldwagters is vrygelaat tydens die departementele verhoor op 21 Julie 2022. Die ander veldwagter se departementele verhoor is aan die gang hangende die uitslag van die hofproses.
“In totaal is 51 sake waarin 51 mense skuldig bevind is, afgehandel. Die swaarste vonnis wat opgelê is, was 34 jaar tronkstraf, terwyl twee mans van Mpumalanga tot 28 jaar gevangenisstraf gevonnis is vir renosterstropery en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.”