Die polisie in Letlhabile in Noordwes ondersoek ’n saak van moord nadat ’n 30-jarige man na bewering sy 70-jarige ouma, Elsie Matlhasedi, op Maandag, 1 Augustus 2022, doodgesteek het. Die voorval het in Maboloka buite Letlhabile naby Brits plaasgevind.
Volgens Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het Elsie se seun die lewelose liggaam van sy ma gevind waar sy in ’n plas bloed by hul huis gelê het. Sy nefie het met ’n mes langs haar gestaan.
Die oom het gevolglik die polisie ontbied en die verdagte wat na bewering sy ouma verskeie kere met ’n mes gesteek het, het van die toneel gevlug. Die verdagte het homself na bewering met ’n mes gesteek en uiteindelik in ’n bosagtige area op die grond geval terwyl hy deur sy oom agternagesit is.
Die motief vir die moord is nog onbekend.
Die provinsiale kommissaris van Noordwes, luitenant-generaal Sello Kwena, het die voorval veroordeel en sy innige meegevoel aan die familie oorgedra.