Nonhlanhla Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het die polisie geloof vir die inhegtenisneming van die man wat beskuldig word van die wrede moord op twee graad 12-leerders.
Die twee meisies is met ’n byl aangeval terwyl hulle in hul huurhuis by die Ngwangwane-dorpie in die suide van KwaZulu-Natal was.
Daar word beweer dat ’n man in sy 20’s in die vroeë oggendure oor die naweek by die huurhuis ingekom en die meisies met ’n byl in stukke opgekap het.
Een van die meisies se lyk is in die huis gelos, terwyl die tweede lyk vyf kilometer van die toneel af gevind is.
Khoza het skok en afsku uitgespreek oor die wrede moord op die twee leerders.
“Ons voel die pyn van hierdie jong vroue wat so moes sterf. Die aanval op weerlose leerders is totaal onaavaarbaar en ’n weerspieëling van die ergste vorm van misdadigheid en agteruitgang van morale waardes.
“Dit is baie pynlik dat ons Vrouemaand met so ’n aaklige voorval begin. Ons vind vertroosting in die feit dat wetstoepassingsagentskappe die verdagte vinnig in hegtenis geneem het, al het hy probeer om te vlug,” het Khoza gesê.
Sy het herhaal dat almal wat by gruweldade betrokke is nie verdien om tussen mense in die samelewing te bly nie.
Khoza het haar meegevoel betuig met die families van die twee meisies wat hul lewens verloor het.
Die departement se span sal sielkundige ondersteuning bied aan die gesin van die slagoffers, en hul dienste uitbrei aan leerders en onderwysers by die skool wat die meisies bygewoon het.
Die polisie het die verdagte Sondagmiddag in hegtenis geneem en hy is Maandagmiddag na die toneel geneem om uit te wys waar hy die lyk van ’n ander meisie gestort het.
Tydens die proses het hy egter in die rivier gespring en oorgeswem in ’n poging om te ontsnap.
Die polisie moes sy honde-eenheid ontbied wat gehelp het om die verdagte op te spoor. Die polisie het hom by die plaaslike St. Johns Apostolic Faith Mission-kerk gevang.
Wyk 8-raadslid, Mthobisi Dlamini, het gesê die gemeenskap was geskok oor die voorval.
Dlamini het opgemerk dat ’n aantal leerders van naburige wyke en munisipaliteite huise in wyk 8 huur, om nader aan hul skole te wees.
“Ons het nog nooit so ’n aaklige voorval beleef nie. Ons het nooit geslaap sedert hierdie voorval gebeur het nie, want ons was bekommerd dat die misdadiger weer sou toeslaan.
“Die feit dat die polisie hierdie man in hegtenis geneem het, het ons egter gelukkig gemaak. Ons kon nie slaap toe hy ontsnap het nie. Ons is ook bly dat die lyk van die ander kind uiteindelik in die vroeë oggendure van Dinsdag 2 Augustus gevind is,” het hy afgesluit.
Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die hof op aanklagte van regsverydeling en twee aanklagte van moord verskyn. Sy naam sal dan eers bekendgemaak word.
Lees die departement se verklaring hier.
– SAnews.gov.za