Deur Ashraf Hendricks (GroundUp)
- Mense wat in die strate van die stad woon, sukkel om toegang tot ordentlike was- en toiletgeriewe te kry.
- Nina Manzi (moeder van water), ’n mobiele stort- en ablusiefasiliteit wat hawelose mense bedien, gaan Vrydag in Kaapstad geloods word.
- Die bus bied 15 minute warm storte in ruil vir koopbewyse wat verdien word deur programme wat deur ’n organisasie genaamd U-Turn bestuur word.
Suid-Afrika se eerste “wasbus” vir haweloses sal Vrydag bekend gestel word. Die kleurvolle bus, genaamd Nina Manzi, het vier warmwaterstorte en vier toilette wat vir manlike en vroulike gebruik verdeel is. Daar is ‘n 15-minute perk per persoon en gebruikers kry seep, ’n handdoek, ’n lap en velroom.
Die projek is in samewerking tussen Viva Con Agua, U-Turn en Baz-Art geloods.
Alhoewel dit mobiel is, benodig die bus verbindings met water, riool en elektrisiteit.
Sisanda Henda, wat vir Viva Con Agua werk en die projekbestuurder van Nina Manzi is, het gesê dat hulle ’n manier wou vind om mense wat op straat woon by te staan.
Toe hulle die loodsprojek in Julie 2022 van stapel gestuur het, het sy gesê dat een gebruiker in twee maande nie gewas het nie. “Om te gaan stort was deel van sy reis om homself te herstel,” het Henda gesê.
Sy het gesê dat sommige mense onseker was oor hoe om ’n stort te gebruik of nie geweet het dat rooi warm op krane beteken nie.
“Hulle word gereinig en gekoester, hul waardigheid word herstel en hulle voel weer heel,” het sy gesê.
Henda het gesê sy het gesien hoe ’n aantal mense die diens gebruik voordat hulle vir werksonderhoude gegaan het.
Die naam, Nina Manzi, beteken “moeder van water” en kom uit ’n werkswinkel oor water, higiëne en sanitasie in die landelike Oos-Kaap. Kinders moes “waterhelde” skep, en een van hulle het met Nina Manzi vorendag gekom.
Ons het met een van die eerste gebruikers van die wasbus gepraat. Sy is sedert November 2021 dakloos en het in ’n skuiling gebly waar daar geen warm water was nie.
“Dit is so ’n proses om jouself uit ’n emmer skoon te maak,” het sy gesê.
Sy het gesê die mobiele diens was “fantasties” en dat sy daarna “verfris en gereed voel om te gaan”. Sy probeer die diens drie keer per week gebruik.
’n Ander vrou, wat al 30 jaar haweloos is, het gesê dat sy op straat woon en ’n krat vat, ’n swart sak daarin sit en haarself so was. Sy het die waservaring op die bus baie emosioneel gevind. “Ek het net onder die water gehuil,” het sy gesê.
Die bus werk in samewerking met U-Turn, ’n organisasie wat met mense werk wat haweloos is. Dit bied ’n veilige ligging, elektrisiteit en toegang tot water vir die bus. Diegene wat die wasdiens wil gebruik, moet ’n U-Turn-bewys hê. Hierdie koopbewyse word verdien deur die strate skoon te maak of deur U-Turn as skenkings gegee.
Raymond Bowman, bestuurder van die U-Turn Claremont-dienssentrum, het gesê die koopbewysstelsel gee mense die gevoel dat hulle dit verdien het, eerder as ’n “uitdeelstuk en ’n hand down”.
Koopbewyse kan ook gebruik word vir warm etes, klere of komberse.
Nina Manzi het twee werkers in diens wat die bus skoonmaak en basiese instandhouding doen. Beide van hulle was voorheen deel van U-Turn-programme.
Vrydag gaan die projek na die mobiele fase beweeg, by die U-Turn-diensruimte in Muizenberg en dan by Mitchells Plain anker.
Jy kan die oorspronklike berig op GroundUp lees.
Die berig is vertaal deur AfriNuus se redaksiespan.