Deur Ashraf Hendricks (GroundUp)
Wanneer Dane Herrington gaan slaap, skuif hy sy besittings, boeke en klere na die voorkant van sy geliefde 1984 Ford Sierra. Hy slaap op ’n groot matras op die agtersitplek en gebruik ’n stort by ’n vulstasie. Hy woon al vir die afgelope tien jaar in sy motor.
Sedert 1989, toe hy “The Great White” Sierra gekoop het, het die gekwalifiseerde tuinboukundige, wat nou 64 is, honderde duisende kilometers afgelê om korttermynwerksgeleenthede in Kaapstad, Johannesburg, Pretoria en Waterval te soek.
Nie in staat om werk oor ’n langtermyn te verseker nie, het hy homself dakloos bevind, met net sy motor. Dit was “ ’n stadige afdraande pad na waar ek nou is,” sê hy. Hy wil nie in ’n kar woon nie, sê hy.
Hy het sy ouderdomstoelae, ’n geldjie van familie in die buiteland, en hulp van mense in die gemeenskap. Hy sê die styging in brandstofpryse het hom egter swaar getref.
Die afgelope paar jaar woon hy in en om Bloubergstrand in die Wes-Kaap.
Herrington vermy skuilings vir haweloses. Hulle is te bedruk, sê hy.
“Dit is nie die omgewing vir iemand wat in sy motor woon nie. Ek het besittings daar, en hulle kan gesteel word … Of dit nou op die perseel geparkeer is of nie, dit maak geen verskil nie,” sê hy.
Herrington meen die Kaapse metro moet mense wat net hul motors het om in te woon, teen ’n klein fooi toelaat om by verlate woonwaparke of onderdakparkeerplekke met ablusiegeriewe te parkeer. “As jy jou motor bestuur, moet jy geld hê,” sê hy.
Maar die Kaapse metro se verordeninge maak dit onwettig om in jou voertuig op openbare eiendom te woon, behalwe in ’n “ernstige noodgeval of in ’n aangewese rusarea”. Wayne Dyason, hoof van wetstoepassing in die metroraad, het gesê boetes wissel van R300 tot R500.
Om probleme met die polisie of “die belastingbetalers” te vermy, parkeer Herrington saans op die terrein van ’n kerk. Hy vertrek om 04:00 voor mense opdaag.
Hy spandeer die grootste deel van sy dag in die biblioteek wat sy “kantoor” is. Hy gebruik die fasiliteite daar om e-posse te stuur en werk ook aan ’n boek – “Enjoy the Ride”.
Hoeveel mense nou in hul motors woon, weet niemand regtig nie. Herrington sê daar is baie mense wat in motors woon, maar “jy sien hulle net nie … Hulle parkeer op sekere plekke waar die polisie hulle nie kan sien nie.”
Hy het GroundUp in kontak gebring met Beryl, wat 71 is. Sy wou nie hê haar volle naam moet gepubliseer word nie.
Beryl het die afgelope jaar saam met haar 37-jarige seun in ’n vierdeur-sedan gewoon.
“Dit maak my seun mal,” sê sy.
Hulle is elk met R300 beboet omdat hulle in die voertuig geslaap het. “Ek kan dit nie betaal nie,” sê sy. Sy het ’n hofdatum in September.
Beryl het haar ouderdomstoelae en kry af en toe werk, soos om honde op te pas. Sy bestee sowat R450 per maand aan petrol vir die motor. “As jy dit nie elke dag bestuur nie, raak die battery pap,” sê sy.
Hulle het ’n gasstoof om te kook en twee klein sonpanele om toestelle te laai. Sy swem in die see en stort op die strand as dit nie te koud is nie.
“Ek het nie gekies om te wees waar ek is nie,” sê sy.
Jy kan die oorspronklike berig op GroundUp lees deur hier te klik.
Die berig is deur AfriNuus vertaal.